Forum om publiek te help
2009-08-06
’n FORUM om mense wat deur werksverlies gaan, by te staan, word op Donderdag 13 Augustus om 19:00 by die Paarlberg NG gemeente gestig in samewerking met die “Nuwe Begin/New Beginning tot die mag 4”-aksie. Dié stigtingsvergadering word in die konsistorie gehou terwyl die eerste amptelike forumbyeenkoms op Donderdag 20 Augustus gehou word. Die onderwerp is Verlies en Verandering. Die missie is om mense wat deur werksverlies gegaan het, of werk het, maar bekommerd is, te ondersteun en hulpbronne te verskaf. Ondersteuning is daarop gemik om te leer om trauma te hanteer, hoop te vind vir die toekoms, ’n goeie en gesonde selfbeeld te ontwikkel, menswaardig op te tree, respek van hul intieme kring te herwin en te behou en bemagtig te wees vir toekomstige uitdagings. NB4 is ’n Artikel-21 maatskappy wat vanjaar begin is en reeds na ’n verskeidenheid gemeentes uitgebrei het. Die beskermhere is proff Russel Botman en Willie Esterhuyzen met uitvoerende voorsitter George Rauch en Tommie Immelman as die bedryfs- en ontwikkelingsbestuurder. Hanlie Cronjé is die opleidingskonsultant. Op ’n vraag oor hoe mense in die Paarl betrokke kan raak, antwoord die fasiliteerder, Johannes Barnard: Omdat mense dikwels skaam en bang is, sal dit help as persone (vriende of huweliksmaat) hulle aanmoedig om die forum by te woon en self persoonlik te bring na byeenkomste,” sê hy. “Daar is ook ’n groot behoefte aan kundigheid van professionele mense en ons versoek kundiges om hulle dienste beskikbaar te stel vir opleiding en afrigting, berading en terapie, ondersteuninggemeenskappe en plasingsgeleenthede.” Die byeenkomste sal maandeliks gehou word met ’n nuwe onderwerp vir elke maand. Die formaat is in die vorm van ’n gespreksforum.Vir navrae, kontak Paarlberg kerkkantoor by 021-872-8072 of e-pos paarlberg@ new.co.za.
More
News
|