Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Eugéne Marais-aand by gastehuis

Eugéne Marais-aand by gastehuis
 
2009-08-06


DIE Paarl bring op Dinsdag 11 Augustus om 18:30 as deel van Taalweek hulde aan Eugéne N Marais, oud-Paarliet en beroemde Afrikaanse digter, prosaskrywer, joernalis, regsgeleerde en kenner van dieregedrag.

Marais het drie jaar lank in die Boland deurgebring en hier sy skoolopleiding voltooi. Hy het in 1884 saam met sy suster ’n ou strooidakhuis aan die Zeederbergplein betrek.

Hy het skoolgegaan te “Rozenfontein”, ’n eiendom in Lawaaimaakstraat (vandag Rozenfonteinsteeg) daar naby en hier aan die Paarl First Class Public School onderrig ontvang.

Die skool is op 15 Julie 1868 gestig en hieruit het die huidige Hoër Jongenskool Paarl in 1900 tot stand gekom.

Die Eugéne Marais-aand vind by Zomerlust Gastehuis in die Hoofstraat plaas, wat grens aan die destydse Lawaaimaakstraat en op wie se eiendom die voormalige skoolgebou geleë is.

Twee personeellede van Hoër Jongenskool, Babsie Truter en Marissa van Zyl sal die aand optree. Truter, die bibliotekaresse by die skool, is ook ’n vryskutjoernalis en is tans besig met ’n biografiese boek oor skoliere en persoonlikhede wat verbonde was aan HJS, wat oor 140 jaar van die skool se geskiedenis strek.

Sy sal oor Marais se lewe gesels en uit van sy werke voorlees.

Van Zyl is ’n musiekonderwyser.

Sy sing dié aand van haar eie toonsettings van Marais se werke.

Kaartjies is R70 by tel 021-863-3839 en sluit in ’n kommetjie sop en kerrievetkoek soos net bekende sjef Cass Abrahams dit kan voorberei.

Vir meer inligting oor Taalweek, besoek gerus www.taalmuseum.co. za of skakel die Taalmuseum by 021-872-3441.




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za