OP Vrydag 14 Augustus om 20:00 raak dinge dikker by die Ou Meul-teater met Sê jy ek is dik? II.
Na die massiewe sukses van Sê jy ek is dik I, het die melktert wél die koekroller getref en die dames sing steeds voort. In Sê jy ek is dik? II kry die vetkoeke nóg ’n olie-laag en stop hulle die vertoning vol met die lief en leed van die groter vrou.
Susan en Amanda kry in hierdie produksie kans om hul harte in liefde te doop op ’n realiteitsprogram genaamd “Afrikaan soek sy Swaan”. Dit gee ’n hele taai spul af – vol grappies gesprinkel.
Skouperd Produksies is trots om ’n nuwe vreetsuster te verwelkom by die altyd-lusters. Frieda van den Heever sluit haarself as pianis aan by Marika Reinke (aktrise), Yolandé Rabé (aktrise) en Marteni Burger (teksskrywer). Kaartjies is R60 en kan bespreek word by Vicky Stemmet by 083-564-0056 of by vstemmet@gmail.com.