VANAF 23 tot 27 September sal die vierde weergawe van Suid-Afrika se vinnigste-groeiende fees, Cultivaria, die Paarl in rep en roer hê met honderde produksies deur van die land se top vermaaklikheid-sterre.
Cultivaria 2009 bring immer-gewilde produksies soos die Kaapstad Ballet en kunstenaars soos Nataniël, die Bala broers, Coenie de Villiers, Rory Rootenberg, Mathys Roets, Chris Chameleon en Jak de Priester terug om die skare te vermaak.
Etlike nuwe vertonings maak deel uit van vanjaar se feeskalender onder andere die kombinasie van sangeres Nianell en hees-stem Dozi in die sprankelende It Takes Two. David Kramer keer ook vanjaar weer terug na Cultivaria.
Die Heinz Emporium bied feesgangers die geleentheid om asem te skep tussendeur al die vertonings met heerlike verversings en witwarm musiek.
Besoekers kan lekker ontspan en wyne van top produsente uit die area geniet, terwyl verskeie kosstalletjies versnaperinge en watertand-lekker maaltye sal verskaf.
Daar word ook daagliks musiekoptredes in die Heinz Emporium aangebied om ’n feestelike luim te verseker. Moenie die fantastiese musiek van McCully’s Work- shop, Jakkals en Leeu met die talentvolle Jakkie Louw en Kevin Leo asook Robbie Wessels misloop nie.
Kosliefhebbers kry die geleentheid om hulle kookvaardighede op te skerp by die Bokomo Food & Home Kombuis in die Heinz Emporium waar bekendes, kosredakteurs en uitsonderlike sjefs daaglikse kookdemonstrasies sal aanbied.
Besoekers kan ook die ryk kulturele en argitektoniese geskiedenis van die Paarl ontdek tydens die daaglikse Chas Everitt erfenistoere.
Hierdie begeleide toere bied aan feesgangers ’n unieke insig in Paarl se geskiedenis en besoek van die oudste wynplase, kerke en geboue in die dorp.
Die jongspan sal beslis ook die fees geniet aangesien die Liqui-Fruit kinderteater en speelgrond heeldag vermaak vir die jonger geslag aanbied.
Streng sekuriteit en toesig word verskaf om te verseker dat ouers die vertonings kan geniet, terwyl die kinders lekker baljaar.
Kaartjiebesprekings kan reeds aanlyn gedoen word by www.cultiva ria.com (slegs kredietkaartbetalings word aanvaar). Vir navrae, kontak die feeskantoor by 021-872-9754.