Baba by Paarl Hospitaal op vloer gebore
2009-08-06
Lise Beyers
’n PASGEBORENE het letterlik die lewe met ’n kopstamp begin, nadat personeel van Paarl Hospitaal nie ’n verwagtende moeder wou help terwyl sy gekraam het nie. Die drama het Saterdagmiddag ontvou, ure nadat ’n hoog swanger vrou by die hospitaal aangeklop het. Sy is aangesê om in ’n wagarea oorkant die kraamsaal te wag, en dit was die laaste hulp wat sy ontvang het van verpleegpersoneel. ’n Vriendin van haar, wat nie haar naam genoem wil hê nie, het omstreeks 15:00 besoek afgelê, en die swanger vrou se kinders saamgeneem. Tot haar skok het sy op ’n ‘toneel uit ’n riller-fliek’ afgekom. “My vriendin was oënskynlik in baie pyn, en baie ongemaklik op die stoel. “Sy het vir die verpleërs gesê dat sy nou gaan kraam, maar hulle het net gesê dat sy nie vir hulle moet pla nie. “Ek het geskree dat iemand moet help, maar my noodkrete het ook op dowe ore geval. Iemand het toe gesê dat daar nie beddens is nie, maar by die gang af was daar ’n vertrek vol leë beddens. “Sy het uiteindelik weens haar ongemaklikheid opgestaan en ek kon in haar noodkrete hoor dat die baba nou enige oomblik sy verskyning gaan maak.” En die volgende oomblik was dit toe so. Die kleine babatjie, asook die nageboorte en naelstring het in ’n plas bloed, kop eerste op die koue teël vloer beland, en voor die oë van talle nuuskieriges, asook die vrou se twee jong kinders. “Dit was die verskriklikste aangesig. Daar was orals bloed en tussen-in was hierdie klein blou babaseuntjie op die vloer. “Maar steeds wou niemand help nie. Ek het weer geskree en die suster het net gestaan en kyk. “Teen hierdie tyd het die baba verskriklik begin huil, en sy ma het byna flou geword. “Ek het vir hom opgetel, en uiteindelik het iemand ’n laken gebring sodat ons die baba daarin kon toedraai.” Die polisie is ontbied en hulle ondersoek ’n klag van kindermishandeling teen personeellede. “Nie eens ’n dier behoort so behandel te word nie. Hierdie mense is veronderstel om die publiek te dien met mediese bystand en menslikheid.“ Volgens ingeligtes is sulke voorvale byna ’n alledaagse verskynsel by dié hospitaal, wat tans teen miljoene rande opgeknap word. ’n Woordvoerder van die Wes-Kaap Departement van Gesondheid, het gesê dat al die beddens in die kraamsaal van Paarl Hospitaal verlede week heeldag beset was. Sy beweer ook dat mediese personeel wel teenwoordig was tydens die geboorte, maar het bygevoeg dat in die toekoms sal daar voorsiening gemaak word vir ’n matras vir ’n pasiënt, om te verhoed dat ’n baba op die vloer gebore word.
More
News
|