Stadion in die visier
2009-08-06
Lise Beyers
PLAASLIKE atletiekorganiseerders sit weereens met die hande in die hare oor die misbruik van Daljosafat-stadion. Dit kom nadat atletiektoerusting ter waarde van byna R200 000 verlede week helder oordag beskadig is. Richard Stander, uitvoerende bestuurder van Boland Atletiek, was vandeesweek behoorlik omgekrap hieroor. “Dit is die tweede keer binne ’n maand dat die deur van ’n stoorkamer oopgedwing word en toerusting gesteel word. “Dit is veral ons hekkies wat deurloop. Hierdie is byna splinternuwe toerusting wat R1600 stuk kos. Die voetstukke van vlekvrye staal word afgeskroef en weggedra. “Hierdie toerusting is aangeskaf deur middel van ’n skenking van die Lotto, om die Daljosafat-stadion tot internasionale standaard op te gradeer. “Maar so vinnig soos wat ons opgradeer, so vinnig word dit weer afgebreek.” Diewe het waarskynlik verlede Donderdag deur die dag by die stoorkamer ingebreek. Die proses om die voetstukke van die hekkies af te haal is ’n tydsame een, en dit blyk dat die diewe die wêreld se tyd hiervoor gehad het. Die voorsitter van Paarl Atletiekklub, Brandon du Plessis, is net so omgekrap oor die nuutste voorval. “Ons het al talle keer gepleit by die Drakenstein Munisipaliteit dat die sekuriteit by die stadion opgeknap moet word, maar die nuutste diefstal is ’n bewys dat dit heeltemal onvoldoende is. Hulle moet verantwoording doen hiervoor. “Ek twyfel of ons weer die befondsing vanaf Lotto sal kry weens hierdie diefstalle.” Verlede jaar het die Drakenstein Munisipaliteit bykans R6 miljoen bewillig vir die opgradering van Daljosafat-stadion. Hiermee is die hoofpawiljoen wel opgeknap, asook die kantore en kleedkamers. ’n Alarmstelsel en veiligheidshekke is hiér aangebring, maar die hoofingang tot die stadion voldoen steeds nie aan sekuriteitsvereistes nie. Die veiligheidsmuur om die stadion is ook nog nie voltooi nie, weens die muur wat gedurig aan die agterkant van die stadion afgebreek word. Volgens Du Plessis weier die kontrakteur om hierdie rede om verder hieraan te werk. Ander toerusting wat gesteel word, is vlekvryestaal merkers by die verspringkuil. Bo en behalwe hierdie vandalisme wat by die stadion plaasvind, is die tartanbaan besig om te verkrummel. Stander het gesê dat die leeftyd van die baanoppervlak reeds in 2003 verstryk het, en nou hou dit ’n gevaar in vir atlete. Die hamergooi- en diskusnette voldoen ook nie aan die nodige veiligheidstandaarde nie. “Groot atletiekbyeenkomste bring miljoen rande se inkomste aan dorpe, soos byvoorbeeld in Stellenbosch. Maar weens omstandighede by Daljosafat-stadion, kan ek nie sien dat ons weer ’n nasionale byeenkoms hier sal kan aanbied nie - om nie te praat van ’n internasionale een nie.” * Theft and vandalism is a big problem at Dal Josaphat Stadium.
More
News
|