Varkgriep kry Paarl beet
2009-08-06
Lise Beyers
DIE gevreesde virus H1N1, beter bekend as Meksikaanse of varkgriep, het nou ook die Paarl op hol. Verskeie Paarliete, veral skoliere, is reeds positief getoets vir hierdie virus, met altesame twaalf leerders van Hoërskool Gimnasium onder hulle. Maar wat die situasie vererger, is die feit dat bykans ’n derde van die dorp in die greep van gewone wintergriep en verkoues is, en as iemand begin nies, word daar gevrees dat dit varkgriep is. Dinsdag was byna 50% leerders van Hoërskool Gimnasium afwesig, by Hoër Meisieskool Paarl was ’n derde van hul leerders in die bed, asook verskeie onderwysers, en New Orleans Sekondêr het ook begin leegloop met talle siek kinders wat Dinsdag verlof gekry het om huis toe te gaan weens griep of verkoue. Die meeste skole het hul sportoefeninge en wedstryde gekanselleer, en onsekerheid ontstaan oor hierdie naweek se Derby tussen New Orleans en Klein Nederburg, met talle van hul top-spelers wat ook lamgelê is. Dokters se spreekkamers was tot oorlopens toe vol, asook apteke wat uit voorraad geraak het van griepmedisyne. Die PathCare patologiese laboratorium moes feitlik deurnag werk om bloedmonsters te toets vir varkgriep. En wat is die gevreesde varkgriep nou eintlik? Dit is ’n akute boonste lugweginfeksie wat hoogs aansteeklik is. Onder normale omstandighede is die siekte gewoonlik egter nie te erg nie en pasiënte word binne vyf tot sewe dae gesond. Hoërisiko-gevalle soos HIV-positiewe en ander pasiënte met verswakte immuunstelsels, persone met suikersiekte of chroniese longinfeksie, persone wat baie oorgewig is en aan hart- en nierversaking lei, en bejaardes, is egter vatbaar vir ernstige komplikasies indien hulle deur die virus besmet sou raak. In sulke gevalle word die siekte baie ernstiger en hierdie pasiënte benodig gewoonlik hospitalisasie. Dit is juis persone in hierdie kategorie wat getoets moet word vir die virus. Die simptome van varkgriep is dikwels dieselfde as enige ander griep. Dit gaan gepaard met ’n hoë koors, ’n seer keel, verstopte of loopneus, hoes, lyfseer, asook diarree of braking. ’n Plaaslike dokter het gesê dat indien ’n pasiënt hierdie simptome toon, moet hulle binne 48 uur mediese hulp ontvang. Dan kan die pasiënt maklik behandel word. ’n Gewone griepmedikasie sal voorgeskryf word en die pasiënt sal vinnig weer op die been wees. ’n Persoon wat wel besmet is met varkgriep moet noue kontak met ander mense vermy. Maar vrese dat hierdie virus die wêreld in ’n wurggreep sal hê soos tydens die 1918 Spaanse-griep pandemie toe tussen 50 en 100 miljoen mense wêreldwyd gesterf het, is ongegrond. Moderne medikasie, asook bewustheid, sal hierdie varkie in die wiele ry. * Swine flu has been diagnosed in Paarl.
More
News
|