Haai Riana, wat skryf jy nou?
2005-08-25
Engela Duvenage
DIS seker onvermydelik dat ‘n storiemaker wat haar op ‘n drie-eeu-oue Bolandse wynlandgoed bevind en boonop op ‘n beesplaas grootgeword het, haar fokus op ‘n stadium sal draai na ‘n boek oor boerdery, die lewe op ‘n plaas en die mense van die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap.
Want elke dag, so met haar werkery in die wingerde saam met haar plaasmense of in gesprek met ander boere, kom die mooiste lewensverhale en staaltjies na haar toe aangeskuifel.
Letterkundige dr Riana Scheepers, skryfster van die Katriena-reeks en kortverhaalbundels wat haar wedervaringe op toer deur verskillende wêrelddele én Suid-Afrika vasvang, kan nie ophou om te gesels oor haar nuutste projek nie: ‘n bloemlesing wingerd- en plaasstories met die voorlopige titel “Die melkweg het ‘n ster laat val”.
“Nie sommer só ‘n boek nie, ‘n wonderlike, wonderlike boek,” gesels sy oor dié kortverhaalbundel.
“Die begrip 'plaas' is wyd en evokatief,” vertel dié skryfster wat haar gewig ook die afgelope drie jaar ingegooi het by haar en haar prokureur-man Johan se plaas De Compagnie in die Bovlei buite Wellington.
Die samestelling van die bundel word voorafgegaan deur ‘n skryfkompetisie wat aan enigeen oopgestel is om hul kortverhale te stuur, en wat deur De Compagnie Wynlandgoed geborg word ter viering van sy 300-jarige bestaan.
‘n Kontantprys van R3000 is vir die wenner op die spel, asook ‘n verskeidenheid van die plaas se wyne en brandewyn.
Talle bekende skrywers het reeds van hulle laat hoor, soos Koos Kombuis, Chris Barnard, Nanette van Rooyen en Francois Bloemhof.
Maar dis oor die “mense wat ek van geen kant af ken nie,” waaroor sy so opgewonde is. En verstom is oor die gehalte van hul skryfwerk.
Stories daag tans per epos, per hand geskryf op lyntjiespapier of per faks van oral oor Suid-Afrika by haar statige plaashuis met sy hoë geelhoutdak op, waar sy dit in haar studeerkamer met sy kaggel kan deurlees.
Daar’s stories deur ‘n boervrou uit die noorde, ‘n mediese dokter cum deeltydse boer van Middelburg, van karretjiemense van die Tankwa-Karoo en die Boesmanlandversies van’n vrou van Brandvlei.
Hulle omvat spekskietstories oor kameelperde wat drank gevoer word tot stories van verlange oor vervloë dae en die lewe op ‘n plaas vasvang. En natuurlik diegene wat sê hulle verstaan nie die swymel oor die plaaslewe nie.
Nou die dag, op besoek aan haar geliefde Paternoster, stop een van die baksters van die plaaslike kafee ook ‘n storie in haar hande.
“My doel met die publikasie is om onder andere skrywers van die plaasgemenskap te stimuleer, maar sonder om die nie-plaasbewoners uit te sluit. Kortom, enige plaasstorie is uiters welkom.
“Ek wil almal se stemme hoor,” vertel sy.
Die boervrou, die boer, die werker, die nageslagte wat al jare weg is van ‘n familieplaas.
Dis hoekom sy ook tyd maak om waar sy kom, te luister en die stories te help opskryf van diegene wat dit nie self kan doen nie. Om so ‘n deel van die geskiedenis vas te vang wat eenvoudig ‘n stofomslag moet kry.
Dis nie met toorkrag wat die stories by haar uitkom nie, maar skouer aan die wiel dryfkrag om mense te inspireer daartoe.
Meer as ‘n 1000 eposse is uitgestuur om mense uit te nooi om te begin skryf. Sy gebruik haar kontakte in die literêre wêreld, verkry soveel spasie moontlik in koerante en tydskrifte, en gesels oor radio met aansteeklike entoesiasme daaroor.
Hoe kies mens nou eintlik watter stories maak dit bo-oor die grensdraad, en watter nie?
Sy sal die bundel saamstel saam met ‘n redakteur en Nicci Thabo, een van haar plaaswerkers op De Compagnie.
“Ons sal die vryheid wil hê om die stories of anekdotes in samewerking met die outeur te verwerk.”
“Nicci is nie ‘n skuilnaam nie, en sy is nié ‘n ‘token black’ nie! Sy is ‘n talentvolle vrou in lyf en gebeente,” verduidelik Riana baie trots.
“Sy skoffel en snoei en pars. En sy skryf stories.”
Sy’t vir dié deeltydse kindertuinjuffrou aangemoedig om vir haar kleuterklassie stories op te maak wat eie is aan hul omgewing. Een ding het gelei na ‘n ander, en kort voor lank het Nicci ‘n inskrywing gepos aan die jaarlikse kompetisie van die Bloemfonteinse Skrywerskring.
En daar wen sy jou waarlik die afdeling vir skrywers uit voorheen benadeelde groepe, met haar verhaal oor die wel en wee van haar jeugvriende! Sonder enige hulp van Riana, behalwe vir ‘n posseël op die inskrywingsbrief.
Tot einde Oktober sal Riana soek en wag en luister vir die regte stories. Die wenner sal op 19 November op De Compagnie aangekondig word.
En dan sal die finale skaaf en potlode kou voorlê om die verhale persklaar te kry, gereed vir die Afrikaanse leserspubliek.
“Ek sal werk tot dit reg is,” sê sy beslis, en spring gou weer weg met ‘n lekkerluister-vertel van ‘n verhaal wat onlangs Bovlei toe gepos is.
* Stuur jou storie aan rianas@mweb. co.za, Posbus 395, Wellington, 7654.
More
News
|