Zola proe sukses in Paulus 8km
2005-03-17
DIE eerste Kassbell Paarl Apteek 8km wedloop en pretstap wat deur Paulus Joubert Sekondêr gereël is, het Saterdag op ’n hoë noot afgeskop.
Die wedloop met die Springbok-atleet, Johan Landsman, en die top WP-atleet, Thembelani Zola, in die begingroep, het afgestuur op ’n interessante stryd tussen genoemde twee, met Piet Jacobs (Maties) wat die vorige aand nog aan die 10 000m wedloop by die Absa byeenkoms op Stellenbosch deelgeneem het, as buiteperd.
Teen die einde was dit egter Zola wat met die louere weggeloop het en die R500 eerste-plek prys in sy sak kon steek. Piet Jacobs was tweede gevolg deur Landsman.
Adrian Julies van Paulus Joubert het verras toe hy in die vierde plek die wenstreep oorgesteek het. Hy was ook die eerste junior wat klaargemaak het.
Die organiseerders gaan die wedloop ’n jaarlikse instelling maak en poog om dit op die jaarkalender van Boland Atletiek te kry wat sal verseker dat die beste atlete in die Boland sal deelneem.
More
News
|