Pniel-manne ongelukkig
2009-08-06
IN ’n wedstryd wat baie opwinding opgelewer het, met goeie en konstruktiewe rugby aan die orde van die dag, is die wedstryd tussen Pniel Villagers en Tygerberg Saterdag ontsier toe ’n wettige drie in die doodsnikke van die wedstryd deur Villagers aangeteken was, maar nie deur die blaser toegeken is nie. Dié beslissing het veroorsaak dat die tuisspan, tot groot ontsteltenis van die skare, die wedstryd met 21-25 verloor het teen die Tygerbergers. Nadat Pniel vroeg in die wedstryd die oorhand gehad het met twee verdoelde drieë, het die besoekende Tiere met goeie lynstaanspel terug in die wedstryd gekom deur verskeie balle uit dié faset by die tuisspan af te neem en sodoende aanvalle te loots. Die Pniel-span se ritme was verder ontwrig toe die staatmaker-senter, Earl Cyster, die veld met ’n ernstige beenbesering moes verlaat. Die afstuur (geelkaart) van die kranige flank Fernando Adams, het die tuisspan verder ontwrig. Twyfelagtige beslissings deur die skeidsregter het ook veroorsaak dat humeure aan albei kante dikwels gedreig het om hand uit te ruk. Dit het ook emosies onder die skare veroorsaak. Die tuisspan het goed geskrum en die dryfwerk van die pak voorspelers was ’n plesier om te aanskou. Aanslane op kritieke tye het egter geleenthede om punte aan te teken, in die wiele gery. Pniel se drieë is gedruk deur Gavin Petersen en Patrick van Graan, terwyl die tuisspan ’n strafdrie ook gekry het. Dimitri Noble het al drie doelskoppe deur die mikke gejaag.
More
News
|