Bulle boelie Kavaliers
2009-08-06
Jaco van Wyk
HOEWEL Vrydag se wedstryd in Pretoria ’n veel beter poging was as die geploeter op Kimberley twee naweke gelede, het die geboelie van die Boland Kavaliers nietemin voortgeduur op Loftus-verseld. Die Blou Bulle se tuisveld is ’n nagmerrie-vegveld vir enige besoekende span en die Kavaliers se 18-50 nederlaag het dié feit eenvoudig weer onderstreep. Met slegs een oorwinning in vier wedstryde, lê die wynboere met vier punte darem nog bo die Vrystaat en die Luiperds op die Curriebeker-punteleer. Beide spanne is nog segeloos in vanjaar se kompetisie. Die Wellingtonners sal egter vinnig met ’n plan B vorendag moet kom, want dié kompetisie raak geensins makliker nie. Hoewel die Bulle sewe drieë gedruk het teenoor die twee drieë van die Kavaliers, was die Bulle se afrigter, Frans Ludeke, die eerste om te erken dat die besoekers sy span hier en daar van opdraande verseker het. Volgens Ludeke verdien Boland krediet vir hul goeie spel en goeie verdediging. Ludeke voel dat dit veral ’n baie harde stryd was tydens die eerste deel van die wedstryd. Ná die Kavaliers ’n agterstand van 3-22 gehad het teen rustyd, het Boland oudergewoonte gedurende die laaste paar minute van die wedstryd op alle silinders gevuur. Sodoende het Lionel Cornelius en Ernie Kruger agter die doellyn gaan kuier vir Boland se enigste twee drieë van die wedstryd. Elgar Watts het ’n doelskop en twee strafdoele tydens Vrydag se wedstryd behaal. Môre (15:30) hervat die Kavaliers hul veldtog op hul tuisveld, Boland-stadion in Wellington, teen die Leeus. Die Leeus lê met 11 punte een trappie hoër op die punteleer as die Kavaliers.
More
News
|