Boishaai bobaas
2009-08-06
Jaco van Wyk
DIE rekord - ‘ses interskole-seges in ’n ry’ - was toe nie Saterdag op Faurestraat-stadion vir Hoërskool Gimnasium beskore nie, toe Hoër Jongenskool Paarl ’n oortuigende 24-12 oorwinning oor hul aartsvyande behaal het. Nie dat ’n interskole-sege ooit maklik kom nie - tussen dié twee spogskole was Boishaai eenvoudig, vir die eerste keer sedert 2003, te sterk vir die Gimmies. Veel beter benutting van hul kanse het uiteindelik gelei tot ’n meer afgeronde vertoning deur die manne in blou en wit en dit wou nie vir ’n oomblik voorkom of HJS ’n sesde agtereenvolgende loesing onder die hande van die Gimmies sou ly nie. Boishaai se bobaas-losskakel, Gavin Hauptfleisch, het sy span se rekening reeds in die eerste paar minute geopen toe hy eers ’n skepdoel deur die pale gejaag het, gevolg deur ’n strafdoel kort daarna. Ná sowat tien minute se volgehoue druk, het Boishaai se Kurt Ruiters oorgeduik om aan sy span ’n 0-13 voorsprong te verseker. ’n Skepdoel deur Gim se SA-skolelosskakel William van Wyk, het gesorg vir die Gimmies se eerste punte op die telbord. Van Wyk het deurgaans HJS se verdediging getoets en was, met sy dodelike skopvoet, verantwoordelik vir al Gim se punte. ’n Strafdoel deur beide losskakels in die volgende paar minute het die telling op 6-16 te staan gebring in HJS se guns en vir ’n oomblik wou dit voorkom of Gim sou terugkruip in die wedstryd. Gim het egter ’n reuse terugslag beleef toe die flank, Henlo Webber, in die 20ste minuut gegeelkaart is weens ’n gevaarlike duikslag op HJS se Jan de Wet. Met dié terugslag kon HJS beheer oor die wedstryd kry, wat gelei het tot ’n drie vir die linkervleuel, Lucian Cupido, om die telling 6-21 te maak. Kort voor rustyd was die Gimmies met twee strafdoele beloon om met ’n 12-21 agterstand die breek binne te gaan. Die tweede helfte was taai en deurkomkans was so te sê nul. Die enigste punte wat in dié helfte behaal was, was ’n tweede skepdoel deur HJS se Hauptfleisch. Dit het die eindtelling op 24-12 te staan gebring. Volgens HJS se eerstespan-afrigter, Elmo Wolfaardt, was Saterdag se wedstryd ’n ware vertoonvenster van skolerugby - nie net vir Paarlse skole nie, maar vir skole regoor die land. “Saterdag se wedstryd was werklik in ’n goeie gees gespeel en, soos verwag, was die wedstryd baie fisies.” Wolfaardt is van mening dat beide spanne kanse gehad het, maar dat HJS hul kanse beter benut het. “Ons voorspelers het voorlangs die grondslag gelê vir ons agterspelers om die bal wyd te speel. Alle eer moet egter aan Gimnasium gaan vir ’n klipharde wedstryd.” ) Oor die algemeen het Hoër Jongenskool vanjaar se interskole oorheers, wat die rugby aanbetref. Die twee skole se hoërskoolrugbyspanne het in altesaam 21 wedstryde swaarde gekruis, met HJS wat sewentien van dié wedstryde gewen het. HJS het in twee wedstryde (o.19H en o.19C) die onderspit gedelf en in twee wedstryde (o.14A en o.16A) is die louere gedeel. Uiteindelik het HJS ’n algehele sege behaal, met ’n gemiddelde telling van 20-5. HJS se o.13A-rugbyspan het ook verlede Donderdag gewen. Hierteenoor was nie een van Hoërskool Gimnasium se dogtershokkie-spanne aan die verloorkant teen Hoër Meisieskool nie, met nege oorwinnings en vier gelykop-uitslae in dertien wedstryde. Wat ander eerstespan-wedstryde aanbetref, het Gim se o.18A seunshokkie-span 3-2 gewen, Gim se o.18A dogtershokkie-span het 7-0 gewen, Gim se o.19A netbalspan het 30-19 gewen, HJS se eerste muurbalspan het 4-0 gewen en HJS se skaakspan het 11-9 gewen.
More
News
|