EK wil graag my gevoelens deel oor vanjaar se interskole tussen Paarl Gim en HJS.
Eerstens wens ek vir Boishaai baie geluk met hul oorwinning - hulle het dit uit en uit verdien!
Die ding wat my egter ontstel het, was die gedrag van die leerders.
Ná die hoofwedstryd het al Gim se leerders op aandag gestaan terwyl HJS hul skoollied gesing het, maar toe Gim se skoollied gesing word, was daar nie dieselfde ervaring van respek van die opposisieskool nie.
Ek kan verstaan dat die eerste wen in ses jaar so oorweldigend was dat hulle dalk vir ’n minuut perspektief verloor het.
Maar Gim het nog AL die jare respek getoon teenoor enige opponerende skool se skoollied (wen of verloor).
Maar asof dit nie erg genoeg was nie, moet mens nog elke dag ontstellende opmerkings hoor in die publiek van leerders - selfs van ander Paarl skole se leerders.
Baie leerders in die Paarl mis duidelik die punt van waaroor interskole of derby regtig gaan. HJS se skoolhoof, Derek Swart, het dit so goed gesê: “May this Interschools be remembered for its friendship, camaraderie and healthy competition.”
Ek is nie bitter oor die verloor nie - te veel wen raak later vervelig - maar dit sou tog lekker gewees het om in my matriekjaar te kon wen.
Aan die ander kant is dit Boishaai se matrieks se eerste en enigste wen in hul hele hoërskoolloopbaan, so ek gun dit vir hulle.
Paarl Gim gaan vir die volgende vyf jaar weer met die kroon wegstap en dan sal die siklus homself waarskynlik weer herhaal, maar soos Cassie Carstens (skoolhoof van Kleingim) gesê het: “Die Oubaas weet van beter.”
Al het HJS interskole gewen het hulle nie die beste gees en beste gedrag gewen nie!
Al kon Paarl Gim nie die hoofwedstryd deurtrek nie, bly ons Gimmies ALTYD wenners!
Matrieks ‘09, onderwysers, leerders, afrigters, ouers, oud-Gimmies en al vier o.19 spanne - ek salueer julle!
En nee, ek sal nooit my Gimbaadjie uittrek nie, want ek dra dit met trots!