HIER in ’n aftree-oord het ons begin klagtes en navrae kry oor verskille in waardasies van dieselfde grootte huise. Nadat ’n steekproef geneem is van tien huise uit ’n totaal van 160 huise, en die gegewens vergelyk is, is daar onverklaarbare verskille gevind.
Die gegewens is geneem na Marais en Genote wat die waardasies gedoen het. Dit blyk toe dat van die oppervlaktes wat hulle van die munisipaliteit ontvang het, foutief is.
Die slotsom is dat uit die tien huise wat ons as steekproef geneem het, vyf huise se oppervlaktes foutief is - dit is 50% verkeerd. Ons gevolgtrekking is dat die hele Drakenstein se waardasies foutief is.
Volgens die waardeerder het die munisipaliteit al die huise in Drakenstein opgemeet. Nie een van die 160 huise hier is vanjaar opgemeet nie. Ons het navrae gedoen by ander eienaars in die Paarl en almal het bevestig dat hulle eiendomme nie opgemeet is nie.
Dit is in elk geval verkeerd dat die Munisipaliteit vir jou ’n nuwe waardasie stuur waarop slegs die bedrag verskyn en nie jou erf, huis en afdakke se oppervlaktes asook die vorige waardasie, sodat jy dit kan kontroleer nie.
Die sogenaamde gemiddelde verhoging van 7,5% is in elk geval teenstrydig met die regering se riglyn van 6,5%. Aangesien die oppervlaktes foutief is, is die waardasies en die eiendomsbelastings ook foutief en dit kan ons as belastingbetalers nie aanvaar nie.
Die enigste oplossing is dat die munisipaliteit die ou waardasie gebruik en 6,5% byvoeg totdat hierdie foutiewe waardasies uitgesorteer is.
Elke inwoner behoort die reg te hê om sy oppervlaktes en waardasie te kontroleer, dat dit nie eensydig op jou afgeforseer word nie.
Sal die inwoners van die Paarl asseblief saamstaan en die Munisipaliteit dwing om die huidige waardasies ongeldig te verklaar en 6,5% verhoging op die ou waardasie toe te pas totdat die waardasies uitgesorteer is. Ons behoort nie die verhoogde eiendomsbelasting te betaal nie.
WH du Preez, Groenleegte
Volgens ’n omsendbrief van die munisipaliteit kan mense met navrae oor hul waardasies die waardasiebeamptes by die Paarl burgersentrum spreek tot die einde van die maand. Vir navrae, skakel Isaac Fortuin 021-807-4534, Chris Priem 021-807-4864 of Roy Morris 021-807-4815. - Redakteur.