Topstudent aangewys
2009-08-13
Devidean Moses
’n PAARLIET, Alec Abrahams (59), is onlangs vereer by ’n spoggeleentheid toe hy aangewys is as die beste volwasse student in die Kaap Wynland Onderwysdistrik. Hy het aandklasse aan die Nederburg Community Learning Centre gedoen. In 2007 het hy drie vakke, Ekonomie, Bedryfsekonomie en Engels, aangepak om te toets of sy brein nog steeds ná 40 jaar kan funksioneer. Nadat hy al hierdie drie vakke geslaag het, het hy besluit om sy matriekjaar voort te sit met Afrikaans, Biologie en Geskiedenis wat hy met onderskeiding geslaag het as toppresteerder in die klas. Alec moes die skool op 17 jaar (graad 11) verlaat om die broodwinner van die Abrahams huishouding te wees, nadat sy pa gesterf het. Hy het vir sy ma en vyf broers en susters gesorg. “Op ’n jonger ouderdom wou ek graag ’n dokter word, maar weens die terugslag kon ek nie studeer nie,” sê hy. Hy is getroud met Susan, ’n onderwyseres by LK Zeeman Primêr. Abrahams het begin werk as ’n afleweringsbode en daarna in 1970 as ’n stoorassistent. Hy het later ’n pos gekry as administrasieklerk by ’n versekeringsfirma, maar weens siekte moes hy tou opgooi. Hy beoog om vanjaar sy studies voort te sit by Unisa en wil hom bekwaam as assistent-apteker. Hy motiveer die jeug met die woorde, “Niemand kan jou geleerdheid wegneem en so jou drome vernietig nie - jy is die wenner agter jou droom.”
More
News
|