Kinders slaan varke dood
2009-08-13
Lise Beyers
KINDERS het die afgelope naweek ’n skrikbewind gevoer op ’n plaas buite Wellington, wat gelei het tot die dood van drie varke. Pierre van Schalkwyk van Houtbaai-plaas op die Hermonpad het gesê dat hy Saterdagaand na buite is toe hy sy beeste om sy huis gewaar het. “Dit was baie vreemd want hulle word in ’n kraal toegesluit. By nadere ondersoek het ek vasgestel dat die staalhek na die kraal oopgebreek is en net aan ’n draadjie hang. “Van die beeste het gebloei en ek kon sien dat hulle met iets geslaan is.” Maar Van Schalkwyk het eers Sondagoggend die volle omvang van die vorige aand se skade gesien, toe een van sy werkers vir hom sê dat hy na die varkstal moet gaan kyk. “Dit was ’n verskriklike gesig. Daar was orals bloed. Die drie varke wat in die stal was, is almal doodgeslaan. Hulle is oënskynlik met stukke staal teen die lyf en kop gemoker.” Van Schalkwyk het na die arbeiderswonings gegaan om navraag te doen. “Eers het niemand iets geweet nie, maar toe het een van die kinders met die hele sak patats vorendag gekom. “Hy het vertel dat drie seuns tussen die ouderdomme van 14 en 16 die aand met hul streke begin het. “Nadat hulle die varke doodgeslaan het, het hulle die pad gevat. Daar is nou nog geen teken van hulle nie, maar hulle kruip seker op ’n buurplaas weg.” Die betrokke gesinne woon onwettig op die plaas en Van Schalkwyk is maar net een van die talle boere wat met hierdie probleem sit. ’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat hierdie onwettige plaasbewoners ’n wydverspreide probleem in dié gebied is, wat onder meer aanleiding gee tot misdaad soos diefstal asook dranksmokkelary. “Op Houtbaai het ons juis ’n probleem met ’n onwettige smokkelhuis. Die man is al in klopjagte in hegtenis geneem, maar as die saak by die hof draai, word hy net vrygelaat. “Ouers het geen beheer oor hul kinders nie en hulle loop net rond en soek vir moeilikheid. “Die wette van die land beskerm ook hierdie kinders, en daar is geen manier om vir hulle vas te vat nie. “Op die ou einde word jong kriminele, volwasse misdadigers en dan gaan dit nie net ’n vark wees was in die slag bly nie.” * Children of illegal farm residents were presumably responsible for clubbing three pigs to death.
More
News
|