Drakies behaal sewes-sukses
2009-08-13
DRAKENSTEIN se vrouerugbyspan, beter bekend as die Drakies, het koning gekraai in ’n WP vrouesewes-toernooi, wat die afgelope naweek in Langa plaasgevind het. Die Drakies het die toernooi so-so afgeskop met ’n gelykop-uitslag (7-7) teen Langunya. Hierna het die span van Drakenstein egter vuur begin spoeg deur Blue Jets 31-5 en Young Brothers 38-5 te verslaan. In die semi-finaal en finaal teen Vishoek en Blue Jets onderskeidelik, was daar ook geen teenvoeter vir die span van Drakentein se verwoestende bui nie. Die Paarlse dames het die vroue van Vishoek met 38-0 verniel, waarna hulle die toernooi beklink het met ’n puik 35-5 sege oor Jets. * Verlede week, in die vyftienman-kode, het Drakenstein se vroue-span 21-7 gewen teen Blue Jets. Die Drakies se jong vleuel, Areesa Grain, het twee drieë gedruk. Logan Arendse was suksesvol met een doelskop. Crystal Diedericks was die speler van die wedstryd. Die Drakies se volgende wedstryd is teen Maties se vroue op Stellenbosch.
More
News
|