Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Amptenaar se optrede pla

Amptenaar se optrede pla
 
2009-08-20


EK is baie verontwaardig oor ’n insident by die Boland Rugby-unie se kantore op Woensdag 5 Augustus. Ek het myself afgevra, wat het van menseregte en goeie maniere geword?

Op 25 Mei het ek die Flappie Lochnersaal vir my 60ste verjaarsdagviering gehuur. Die bespreking is by die sekretaresse, me Zyster, gedoen.

Nadat ek verneem het wat die saal alles bied, gepaardgaande met die voorwaardes, was ek heel in my skik met my keuse. Daar was geen skriftelike voorwaardes uitgereik nie.

Die sekretaresse moes egter ’n bevestiging van mnr Jack Abrahams kry of daar gedans mag word in die saal. Dit het hy teenoor ons bevestig.

Donderdag 30 Julie ontvang ek ’n oproep van die sekretaresse van Boland Rugby, waarin sy my verwittig dat haar Meneer sê dat daar nie gedans mag word nie.

Die tydsberekening vir die oordra van die voorwaarde was vir my onaanvaarbaar en ek het aangedring op ’n afspraak met mnr Abrahams.

Sy het gesê dat “haar Meneer” Woensdag 5 Augustus beskikbaar sou wees. Tot my ontnugtering was die afspraak nie met mnr Abrahams nie, maar met mnr Francois Davids, Boland se president. Die Meneer was vanuit die staanspoor aanvallend teenoor my. Sy houding was onmenslik, blatant onbeskof.

Hy het geen menseverhoudinge geopenbaar nie en het op my geskree, “ek is oorhoofs en niemand gaan oor my kop nie” en “as jy met Jackie Abrahams wil praat, loop soek hom daar op die veld, maar hier neem ek die besluite.”

Ek was geskok oor die ongevraagde aanval op my. Is dit hoe “leiers” hul mag op gehoorsame burgers afdwing?

Sy houding het my gedwing om ’n ander saal vir my funksie te soek in die kort tydjie tot my beskikking.

Ek sit nou met die las om al my gaste persoonlik van die verandering te moet laat weet en ek het ekstra kostes waaroor ek uiteraard nie gelukkig is nie. Sulke insidente kan voorkom word as organisasies hul huis in orde het.

Die President van Boland Rugby moet sy voorwaardes vir die verhuring van die saal op skrif stel en beskikbaar hê op die dag wanneer die huurooreenkoms aangegaan word.

Magdalene Kisting

Die president van Boland Rugby, Francois Davids, reageer: Mnr Jack Abrahams is slegs ’n werknemer van die Boland Rugbyunie en het geen bevoegdheid om oor die gebruik van die sale van die Unie te besluit nie.

Die reëling dat daar nie in die saal gedans mag word nie, is ’n staande reël wat op Bestuursvlak geneem is en deur niemand, nie eens myself, geïgnoreer mag word nie.

Hierdie beleid is slegs aan mev Kisting herbevestig, waaroor sy ongelukkig was. Haar aantyging dat ek blatant onbeskof en onmenslik teenoor haar was, is van alle waarheid ontbloot, want ek behandel gewoon mense nie op só ’n wyse nie.

Die feit dat sy halstarrig aangedring het om met mnr Abrahams te praat, dui op haar miskenning van my as persoon en president van die Unie. Ek is self ’n Christenmens en het respek vir mense en hulle posisies.

Die Boland is ’n Rugby-unie wat dit ten doel het om rugby te bevorder. Die uithuur van fasiliteite word soms, indien omstandighede dit toelaat, gedoen, maar ons is onder geen verpligting om sale aan mense of organisasies beskikbaar te stel nie. Ons hoofdoel is rugby in die Boland.

Ek as president is juis verkies om ook te waak oor die belange van die Unie en dit is my werk om dit na die beste van my vermoë te bestuur. Ons fasiliteite is nie geskik vir danse nie en daarom is die versoek om te dans, afgekeur.

Die sekretaresse kry haar opdragte van die President en hoof Uitvoerende Beampte en is ingelig oor die reëls, maar was juis versigtig om nie met ’n “moeilike” kliënt koppe te stamp nie en het daarom verkeerdelik gesê dat dit in orde sou wees om in die saal te dans. Die Boland is onder nuwe bestuur en ons verwag om deur een en almal erken en gerespekteer te word.




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za