Pniel Villagers seëvier
2009-08-20
PNIEL VILLAGERS het nóg vier waardevolle liga-punte ingeoes toe hulle Saterdag die tuisspan, Goodwood, met 14-3 geklop het. Dit was egter ’n wedstryd wat min hoogtepunte opgelewer het. Te veel ongedwonge foute deur beide spanne was die rede hoekom dié wedstryd nooit behoorlik aan die gang kon kom nie. Die Pnielers het egter genoeg gedoen om te verseker dat hulle die wedstryd wen en vanaf die laaste posisie op die punteleer beweeg en hul opponente daar laat. Die rustydtelling was 14-0 ná twee verdoelde drieë deur Pniel. ’n Vlymskerp breekslag deur die skrumskakel Edwin Meyer was goed afgerond deur Angelo Nelson vir ’n drie onder die pale. ’n Verdere drie deur die die veteraan, Peter Hendricks, is ook met ’n drie beloon ná goeie dryfspel deur die pak voorspelers. Riaan Windvogel het twee doelskoppe behaal. Hoewel die tuisspan regdeur die tweede helfte in die besoekers se kwart- en halfgebied geboer het, kon hulle nie deur Pniel se goeie verdediging deurdring nie. Goodwood moes dus tevrede wees met drie punte wat vanaf ’n strafskop behaal is. Pniel het deur die loop van die wedstryd baie besit op die grond afgestaan en dit is ’n aspek van hulle spel wat dringend aandag sal moet kry. Teen sterker teenstand sal omgekeerde besit vir Pniel duur te staan kom. Die Pnielers se lynstaanspel kort ook aandag. Vir die wenspan het Clyde Rose ’n goeie wedstryd gehad. Agterlangs het Angelo Nelson belowend gelyk.
More
News
|