Paarliete skitter by spele
2009-08-20
CHARLES JANTJIES en Isaac Opperman was deel van ’n groep van 25 nasionale atlete van Korrektiewe Dienste, wat deelgeneem het aan die World Police & Fire Games vanaf 30 Julie tot 9 Augustus in Vancouver, Kanada. Onder die bestuurskap en afrigting van Basil Jantjies, was dit een van die mees suksesvolle toernooie tot dusver, met meer as 47 individuele medaljes wat die SA-span verower het. Die atlete van die Paarl het geensins teruggestaan vir hul uitdagers nie en het altesaam vyf medaljes ingepalm. Jantjies het skitterend vertoon en vir sy Hong-Kongse en Russiese teenstanders hakskene gewys deur in die 400m (49,91) ’n goue medalje te verower. Die 800m was ’n spannende wedloop waarby Charles tweede geëindig het in ’n tyd van 1:50,1 (ná Naviar Singh van Indië). Opperman het op sy beurt gewys dat hy nog baie woema het, deur koning te kraai in die 10 km landloop in die meestersafdeling (40 tot 44). In beide die 5000m (15:31,3) en halfmarathon (72:23) het hy bronsmedaljes verower.
More
News
|