Streeptruie klop Boland Kavaliers
2009-08-20
Jaco van Wyk
NA nóg ’n belowende vertoning in die eerste helfte deur die Boland Kavaliers, kon die manne van Wellington wéér nie die pas vir die volle 80 minute volhou nie. Soos verlede week teen die Leeus, het die Kavaliers hul opponente, die Westelike Provinsie, met die rug teen die muur gehad teen rustyd. Die rustydtelling was 7-8 vir WP. Die Streeptruie het egter vinger getrek in die tweede helfte, om hul buurman met 38-7 te slag op Wellington. Vir ten minste die eerste 40 minute was daar die hoop dat Boland se hegte verdediging dalk vir WP op hul plek sou sit. Die Kavaliers het eerste bloed geruik toe ’n strafdrie in die 20ste minuut aan hulle toegeken is, ná ’n oortreding deur WP se All Black slot, Chris Jack. Jack is gegeelkaart en Justin Peach het dié drie maklik verdoel. WP het egter hard teruggeslaan toe die blitsige Gio Aplon ’n onverdoelde drie gaan druk het. ’n Strafdoel vir die besoekers was die enigste ander punte in dié helfte en sake het relatief gelyk gestaan teen rustyd. ’n Drie in die 57ste minuut deur die oud-Wellingtonner Juan de Jongh het egter WP se wiele aan die rol gesit, vanwaar dit eenrigtingverkeer was vir die Streeptruie. Drieë deur die vleuel Tonderai Chavhanga, die stut Brock Harris en die plaasvervangervleuel JJ Engelbrecht het uiteindelik aan WP ’n gemaklike oorwinning verseker. Boland speel Saterdag 15:00 teen die Cheetahs in Bloemfontein.
More
News
|