Senter-sensasie
2009-08-20
Jaco van Wyk
JUAN DE JONGH kom asof hy gestuur is. ’n Agterlyn-angel wat die lyn moeiteloos kan oopvlek en wat vanuit die senter-posisie die lewe uit sy opponent kan lak - dit is presies die soort speler waarvoor WP-ondersteuners al geruime tyd bid. Die Westelike Provinsie was juis onlangs so desperaat vir kwaliteit-slaankrag agterlangs, dat die unie begin onderhandel het met een van die wêreld se beste senters, Jacques Fourie, om Johannesburg vir die Moederstad te verruil. De Jongh, ’n oud-leerder van Hugenote Hoërskool op Wellington, het duidelik van dié onderhandeling notisie geneem, want met sy eerste geleentheid in WP se nommer 13-trui ’n paar weke gelede, het die 20-jarige oud-Wellingtonner ’n glimlag op WP-ondersteuners se gesigte geplak met sy hoë werkverrigting. Verlede naweek, teen die Boland Kavaliers op Boland-stadion, het De Jongh sy ou tuisskare vinnig herinner waarom hy in sy matriekjaar, gekies is vir Boland se o.19 Cravenweekspan. De Jongh is na afloop van die Kavaliers-wedstryd aangewys as die speler van die wedstryd. De Jongh was ook een van WP se driedrukkers. De Jongh, wat ook vir die SA Skole Akademiespan uitgedraf het, het verlede jaar sy groot deurbraak gemaak toe hy by die Springbok-sewesgroep ingesluit is. Tot onlangs is dié student van die WP se rugby-instituut in Stellenbosch gery deur beserings, maar met die intrapslag vanjaar vir die streeptruie, het De Jongh gewys dat hy geen roes het om af te skud nie. Hy lyk oorgehaal om WP se senter-kopsorge op te los De Jongh se puik vertonings gaan veral goed af, aangesien WP se ster-senter en kaptein, Jean de Villiers, binnekort sy WP-trui gaan verruil vir die trui van die Ierse-klubspan, Munster. * Tydens Saterdag se kragmeting tussen WP en Boland, was dit verblydend om te sien hoeveel spelers op die veld produkte van Paarlse skole is. Benewens De Jongh, was daar die oud-Boishaaiers Hein Myburgh, Janro van Niekerk, Danie van der Merwe, Llewellyn Adonis (almal Boland), JD Moller en Pieter Louw (albei WP), die oud-Gimmies Marnus Hugo, Jacobie Adriaanse (albei Boland) en Dewaldt Duvenhage (WP), die oud-leerder van Klein Nederburg Sekondêr, Elgar Watts (Boland), asook Boland Landbouskool se Junior Bester (Boland), ook in aksie op die Boland-stadion. Met WP-spelers soos Hilton Lobberts (New Orleans Sekondêr), Willem de Waal (Landbouskool), Conraad Hoffman, De Kock Steenkamp (albei HJS) en Dylan des Fountain (Gim), wat nie Saterdag in aksie was nie, kon dié getal nóg hoër gewees het. Voeg name by soos die Blou Bulle se Wilhelm Steenkamp, Gurthrö Steenkamp (albei HJS) en Burton Francis (Klein Nederburg), die Haaie se Riaan Swanepoel (Gim) en Deon Carstens (Landbouskool), die Cheetahs se Hennie Daniller (Gim) en Danwell Demas (New Orleans Sekondêr), en Griekwas se Albertus Buckle (Landbouskool), dan is dit duidelik dat skole in die Paarl-omgewing steeds jaar ná jaar gehalte-spelers vir die Curriebeker-rugbykompetisie oplewer.
More
News
|