Moedeloos in polisieselle
2005-08-25
HY het te veel gekuier Saterdag en is vir roekelose en nalatige bestuur toegesluit, maar Richard Kapp is erg ontsteld dat sy motor afgeskryf is terwyl hy agter tralies was.
Richard (22) van Noorder-Paarl, sit nou met ’n wrak nadat nog ’n beweerde dronkbestuurder in sy motor vasgery het.
Richard het die Springbokke se oorwinning gevier. Om 23:00 is hy en sy vriendin 20m van sy woning in Pleinstraat deur vyf polisiebeamptes van die Areamisdaadbekampingseenheid van die pad getrek.
“Ek het nie geslinger nie. Dit was nie nodig dat hulle my keppie afgekap en my moes skop nie.”
Richard sê hy is op die agtersitplek van sy motor “gegooi” voordat ’n polisieman die motor na die polisiestasie bestuur het.
“Ek weet nie hoekom hulle my in my eie motor vervoer het nie. Ek was in die selle toe moes ek agter in ’n polisiewa hospitaal toe om bloed te laat trek.”
Sy vriendin het intussen van die huis waar hy loseer, die Noorder-Paarl buurtwagkoördineerder Robert Larke geskakel.
“Terug by die polisiestasie is ons na die selle waar my regte vir my gelees is.
“’n Halfuur later het Robert kom vra of iemand die kar kom haal. My ouers is in Middelburg.
“Toe hy later kom en sê die kar is afgeskryf, het ek gedink hy maak ’n grap.”
Sondagoggend om 11:00 het ’n speurder opgedaag en is Richard se vingerafdrukke geneem.
“Ek het hom na my kar gevra, en hy het in die ongeluksleêr gesien dat my motor in ’n ongeluk was.”
Richard is vrygelaat en gewaarsku dat hy waarskynlik oor ses weke in die hof sal moet verskyn.
“Ek wou net wegkom en ’n vriend het my kom haal. Maar die middag vier-uur het ek gebel. Ek het besef ek moet ’n klag teen die optrede van die polisie en die afskryf van my motor lê.
“Ek wag nou nog vir die polisie om my te besoek om die verklaring te neem, “ het Richard Maandagmiddag gesê.
Volgens Larke het hy met verlof van Richard se ouers ’n vriend wat saam met hom was die aand, ’n polisieman van Wellington wat nie aan diens was nie, gevra om die motor na Pleinstraat te bestuur.
“Regoor die hekke na Boy Louw sportvelde het ’n man voor Richard se motor ingeswaai. Dié man was duidelik dronk en die polisie het sy bloed dadelik laat trek.”
Beweerde dronkbestuurders word ten minste vier uur lank aangehou. ’n Hofdatum word vir ses weke ná die inhegtenisname vasgestel, vir die ontleding van die bloedmonster.
* A Paarlite’s car was crashed while he sat locked in a cell.
More
News
|