Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Sakevrou sterf aan griep

Sakevrou sterf aan griep
 
2009-08-20

Lise Beyers

DIE gevreesde varkgriep het moontlik sy eerste Paarlse slagoffer geëis.

Annalize Kotzé (46), gewilde mede-eienaar van Marais Slotmakers, het Saterdagaand in die Paarl Hospitaal gesterf weens griep-komplikasies.

Kotzé en haar kinders is tien dae gelede dokter toe nadat hulle ook vasgevang was in die vlaag griep en verkoues wat die gebied die afgelope paar weke geteister het.

Maar Kotzé se toestand het vererger en Saterdag is sy in die Paarl Hospitaal opgeneem weens longontsteking.

“Die mediese personeel het alles in hul vermoë gedoen om vir Annalize te stabiliseer, maar dit het nie gehelp nie,” het haar gebroke man, Gert, gesê.

Vrae word nou gevra of Annalize moontlik ’n slagoffer kon wees van die gevreesde H1N1 virus, beter bekend as varkgriep.

Alhoewel Annalize griepsimptome getoon het, het hierdie simptome nie ooreengestem met dié van varkgriep nie, dus is sy nie hiervoor getoets nie.

Annalize en Gert het die afgelope sewe jaar haar familiebesigheid, Marais en Kie, bestuur. Die besigheid is reeds meer as 75 jaar gevestig in die Paarl.

“Annalize was ’n integrale deel van die besigheid en ’n uiters hulpvolle en liefdevolle mens.

“Sedert haar skielik afsterwe hou ons telefone nie op met lui nie. Familie en vriende wil net weet waar hulle kan help. Sy was baie gewild.”

Annalize en Gert het twee jong kinders, Helene (11) en Leonard (10).

Haar begrafnis vind môre, 21 Augustus, plaas om 11:00 by die Toringkerk.

Alhoewel varkgriep maklik behandelbaar is indien dit vroeg gediagnoseer is, kan dit dodelik wees as die pasiënt versuim om binne die eerste 48 uur van griep-simptome toon mediese behandeling te ontvang.

Varkgriep is ’n asemhalingsiekte wat veroorsaak word deur ’n nuwe vorm van die griepvirus.

Simptome sluit in ’n hoë koors, kopseer, liggaamspyne, seer keel, diarree en naarheid.

Diegene wat die grootse risiko in die gesig staar, is mense wat aan chroniese long-, hart- en nierversaking ly, diabete, asmalyers, swanger vrouens, kinders onder vyf jaar en bejaardes oor 65.

Dit word nie aanbeveel dat aspirien bevattende medikasie gebruik word oor ’n lang termyn vir hierdie griep nie.

Toetsing vir varkgriep kos sowat R700 en tans neem dit 3 dae vir die uitslag.

Die vlaag van griep wat twee weke gelede die gebied in ’n wurggreep gehad het, het nou egter bedaar. Party skole het toe ’n bywoningsyfer van slegs 50% gehad in hierdie tydperk. Dokter­spreekkamers was tot oorlopens toe vol, en apteke se griepmedikasie het opgeraak.

* Swine-flu may have claimed it’ s first victim in Paarl.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za