Onwettige verkoop van DVD's in Paarl pla 2009-08-27
HOE is dit moontlik dat onwettige DVD’s en CD’s hier in ons Paarlse middedorp in omloop is?
Dit is onrusbarend dat die swart mark sy merk hier laat as mens inkopies doen en jy neem waar dat (veral die immigrante, wettig of onwettig), hier besig is om ons dorp te benadeel met die verkoop van gekopieerde produkte.
Dit is opvallend hoe hierdie materiaal verkoop word waar dit op die sypaadjies uitgestal word.
Ek het een van die verkopers gevra hoe hulle dit regkry en hy het net sy skouers opgehaal en sy antwoord was dat die kwaliteit goed is.
My uitgangspunt is dat ek met ’n rekenaar by die huis ook self dan tot so ’n stap kan oorgaan en ook dieselfde kan doen.
As dit is wat die beplanning was van ’n nuwe Suid-Afrika, sien ek baie swaar dae vir ons vorentoe.
Elke dag hoor ons hoe ons president probeer om korrupsie stop te sit, maar wat gaan ons as gewone landsburgers doen?
Ek raai mense aan om nie hierdie gekopieerde produkte te koop nie. Dit moet by die polisie aangemeld word, vir optrede.
Ek neem waar dat wanneer polisiebeamptes wel in uniform sigbaar is, hierdie diewe met gemak hul materiaal oppak en hul kampie verskuif sonder om uitgevang te word. Laat ons ’n daadwerklike poging aanwend om korrupsie stop te sit. Mario Matthews