EK skryf as inwoner en belastingbetaler van die woongebied bekend as Esterville, geleë aangrensend aan die beoogde Waterfront-ontwikkeling in die Paarl.
Met vroeë vergaderings wat plaasgevind het, is dit aan ons gestel dat die ontwikkeling wat beoog word, aangewend sou wees om huisvesting en oefengeriewe te voorsien vir die 2010 sokkerspelers wat die dorp sou besoek.
Na afloop van al hierdie gebeure sal die geboue en infrastruktuur oorgedra word aan die Drakenstein Munisipaliteit vir gebruik soos deur hulle goedgedink word.
Aangesien die doelwitte wat gestel is nie meer bereik kan word nie, verskuif die oorspronklike doelstellings nou na een van voorsiening van behuising vir Paarl inwoners volgens die jongste verslag wat ek ontvang het.
Waarom hierdie gebied wat huidiglik deur alle inwoners van Paarl vir krieket- en hokkiewedstryde gebruik word asook ander ontspanningsgeriewe uitgesonder is vir ontwikkeling gaan my verstand te bowe.
Miskien is dit maar weer die ou cliché dat ’n instansie of iemand die geleentheid gesien het om ’n inkomste hierdeur te genereer, soos met die meeste landbougrond wat aangrensend tot die Paarl Hoofstraat geleë was.
Het dit nie tyd geword dat ons as inwoners die gulsige ontwikkelings wat beoog word beperk of afskiet nie? Die Bergrivier is lank en moontlik is daar iewers ’n geskikte eiendom vir die oprigting van huisvesting wat nie so sensitief is nie. Bekommerde inwoner