Meisie moet in spoor trap
2005-08-25
DIE tienermeisie wat Paarlse winkeliers maande lank om die bos gelei het, sal vir ten minste vyf jaar in haar spoor moet trap.
Hestelene Plaatjies (18) en haar 16-jarige medepligtige is in die Paarl landdroshof skuldig bevind aan diefstal.
Hestelene, van Poinsettiastraat, Paarl-Oos, en die tienerseun van Bougainvillea-woonstelle, het vanjaar ’n spoor van wanbetaling gelaat.
Dit was uiteindelik ’n tongring wat hulle gepootjie het.
Hestelene het oudergewoonte sonder om te betaal uit Tiffany Juweliers gestap nadat sy ’n tongring laat inskiet het.
Die eienaar van die winkel neem egter foto’s van al haar kliënte, en daarmee kon insp Granville Maarman die verdagte vastrek.
Die twee is ook saam skuldig bevind op aanklag dat hulle weggeglip het sonder om te betaal vir haarversorging by Style 4 Hair in Sentraal-Paarl.
Eetplekke waar die twee glo ook uitgestap het voordat hulle die rekening vereffen het, het besluit om nie met vervolging voort te gaan nie.
Of Hestelene of die seun het gewoonlik “net gou uitgegaan om iemand te ontmoet”, of om “geld te trek by ’n kitsbank”. Dan sou die ander volg, en nooit terugkeer nie.
Hesteline het as jeugdige twee keer met die gereg gebots, en elke keer het die hof beslis dat sy gemeenskapsdiens verrig om haar ’n kriminele rekord te spaar.
Nou is sy ’n boete van R6 000 of nege maande tronkstraf opgelê, in geheel opgeskort vir vyf jaar. Haar jonger vriend is met R3000 beboet, of nege maande wat ook vir vyf jaar opgeskort is.
More
News
|