EK verwys na die berig in die uitgawe van 6 Augustus (“Baba by Paarl Hospitaal op vloer gebore”) en wys graag daarop dat die Paarl Hospitaal (en spesifiek die departement van verloskunde en ginekologie) ’n groot rol speel in die opheffing van vrouegesondheid in die Drakenstein en Weskus omgewing.
Daardie dag was ‘n ontsettende besige dag in die kraamsaal en die betrokke baba is onverwags na ’n paar minute se kraampyne gebore. Hierdie toestand word stortkraam genoem (precipitous labour).
Dit gebeur in omtrent 2% van swangerskappe en die hele kraamproses duur minder as twee uur, dis onvoorspelbaar en is gewoonlik die rede hoekom sommige vrouens nie betyds by hulle hospitaal uitkom nie en die baba gebore word in die motor op pad hospitaal toe, op die trappe voor die hospitaal of selfs nog by die huis.
Hierdie baba is baie deeglik deur die pediater ondersoek en daar was geen probleme teenwoordig nie.
Paarl Hospitaal het twee permanente ginekoloë wat ’n diens lewer aan vroue in die Weskus/Drakenstein-streek met ’n voldag ginekologie-kliniek vir die publiek op afspraak. Enige vrou kan binne een maand ’n spesialisafspraak kry.
Ons doen hoë risiko bevallings in ’n moderne toegeruste kraamsaal. Ons bied ’n sonardiens aan elke swanger vrou in die streek met behulp van ’n rondreisende sonograaf wat al die kleiner klinieke besoek.
Ons het voorgeboortesorg uitgebrei na elke kliniek op die dorp en alle swanger vrouens kan nou by hulle naaste kliniek bespreek.
Vroue kan ’n gratis papsmeer by enige kliniek op die dorp kry as hulle 30, 40 en 50 jaar oud word. Hulle kan vir abnormale papsmere hier behandel word sonder om vir maande te wag vir ’n afspraak by Tygerberg. Gesinsbeplanning is verniet beskikbaar, asook raad oor hoe om jou familie te spasieer.
As daar ’n glipsie was, is daar 24 uur van die dag noodkontrasepsie beskikbaar, en ons bied ’n gratis terminasie van swangerskapsprogram aan indien nodig.
As jy swanger is, sal jy die beste mediese sorg tydens jou swangerskap kry, in oorleg met fetale spesialiste by Tygerberg indien nodig.
As jy ’n onsedelike aanranding oorleef het, sal ons ons bes probeer om jou so vinnig moontlik te ondersoek en te behandel sodat ons die skuldige aan die pen kan laat ry.
Dr Stefan Gebhardt (Paarl Hospitaal)