EK is met afgryse vervul met die lees oor die gewraakte aanvalle langs die Bergrivier in die Paarl.
Ek en my gesin stap dikwels in die omgewing waaroor daar berig word en is hewig onsteld oor wat besig is om daar te gebeur.
Ek spog gereeld op my blog op die internet by my oorsese vriende oor ons boomtuin. Nou sal ek ongelukkig moet laat weet dat ek al die tyd in ’n “fool’s paradise” geleef het.
Die gerapporteerde onvermoë van ons plaaslike polisie om die probleem aan te spreek stem my tot misnoeë en noop my tot die algemene opvatting dat ons wetstoepassers nie in staat is om die diens waarvoor ons ten duurste betaal te lewer nie - iets wat President Zuma onlangs onderneem het om met drastiese stappe aan te spreek.
Miskien was dit net die feit dat ek besig was om foto’s op die rivierwal te neem wat die boosdoeners afgeskrik het toe ons verlede week daar was. Ek sidder om te dink wat kon gebeur het.
Ons polisiehoof en stadsvaders: word wakker uit julle diep slaap. Ons het nodig dat julle opstaan en ons weerloses verdedig. Is dit nie waarvoor ons die polisie-salarisse en julle toelaes betaal nie?
Indien my observasies verkeerd is, bewys dit asseblief deur die publiek in te lig oor aksies wat daarop gemik is om ons veiligheid te verseker.
Vernon: Ek hoop jy word gou gesond. Jy is my held. Drie hoera’s vir jou!
Net jammer dat ek dit nie van ons wetstoepassers en stadsvaders kan se nie.
Abie Martin