TWEE plaaslike violiste neem Sondag om 19:00 aan die Musieksentrum Hugo Lambrechts (Parow) se jaarlikse Concertofees - een van dié skolemusiekhoogtepunte in die Kaapse Metropool deel.
Dié twee belowende jong vioolspelers onderskeidelik van die Paarl en Wellington is gekies om saam met twee violiste Telemann se Concerto in D uit te voer.
Jeffrey Armstrong (12) is ’n student van Charlene Bogenhagen by die Hugo Lambrechts Musieksentrum. Hy het op die ouderdom van sewe al viool begin speel en is ’n leerder aan Courtrai Laerskool. Jeffrey het ook die oudisie vir die Sanlam Nasionale Musiekkompetisie geslaag.
Danielle Salies (11) is ’n leerder by die Primêre Skool New Orleans en het reeds op die ouderdom van nege vioollesse begin neem by Charlene Bogenhagen by die Frank Pietersen-Musieksentrum. In 2007 het sy haar eerste Unisa praktiese eksamen afgelê en daarvoor hoogste lof ontvang.
’n Verskeidenheid van altesame 13 werke, deur komponiste van Bruch tot Wagenseil, word deur verskillende soliste en die sentrum se simfonie-orkes uitgevoer. Die repertorium sluit ook concerto’s vir fagot, klarinet en slagwerk in. Kaartjies teen R80 en R60 (pensioentrekkers en kinders). Kontak 021-939-9105.