DIE Lighuis-gemeente in die Paarl het onlangs verskeie aktiwiteite geloods om die gemeenskap bewus te maak van die gevare van dwelms.
’n Optog was gehou vanaf Food-O-Rama tot in Chicago. Optoggangers het met plakkate geloop met boodskappe soos “Tik maak dood” en “Beveg dwelms”. Die Sondag is ’n diens gehou waar gewese Tikverslaafdes hul getuienis gelewer het.
Volgens pastoor Vernon Jacobs van die Lighuis-gemeente word daar beoog om iets soortgelyk aan ’n Tikkamer in die Paarl te begin. Jacobs het gesê baie mense het al by hom kom raad vra oor hul probleme met dwelms of oor hul kinders of eggenoot wat verslaaf is aan dwelms.
“Ons wil nie hê dit moet net ’n kerk-ding word nie - ons wil hê enigeen moet betrokke raak, maak nie saak watter geloof nie,” het Jacobs gesê.
Jacobs het gesê Themba, ’n organisasie wat help met dwelm- en alkoholmisbruik in Parow, het hulle bereidwilligheid gewys om te help en deur hul stories met die Paarl gemeenskap te deel.
Carmen Mouton (28) van Elsiesriver het getuig dat sy vir ses jaar lank Tik misbruik het en niks vir haar familie en kind omgegee het nie.
“Vir my was my kind soos ’n voorwerp. Ek het my maatskaplike toelae gebruik om Tik te koop sonder om skuldig te voel. My kind was baie keer honger, dan moes my ma maar vir hom sorg,” het Mouton gesê.
Volgens Mouton het sy op 2 Junie toe sy weer “hoog” was op Tik, begin besef dat sy hulp nodig het en dat sy nie meer so wil lewe nie.
“Ek het in trane uitgebars en vir my broer gevra om my te help. So het ek van Themba gehoor en daar het ek geleer om myself lief te hê en te respekteer,” het Mouton gesê.
Volgens Eliska Williams (24) van Parow het sy gereeld gesien hoe haar broer en sy vriende dwelms gebruik en het sy ook besluit om dit te probeer.
“Ek was van daardie kinders wat hard geleer het op skool en te bang was om te dros, omdat my skoolwerk vir my baie belangrik was. Ek het altyd gedink ek sal nooit dwelms gebruik nie,” het Williams gesê.
Sy vertel toe sy verslaaf geraak het, het sy gereeld redes gesoek om dwelms te gebruik en hoe sy die ma van ’n seuntjie geword het.
“Eendag toe besluit ek net ek het genoeg gehad, dwelms is nie vir my nie, maar ek kon dit nie alleen doen nie - en ek het my hart aan die Here gegee.”
Williams, tans ’n regstudent, is ook betrokke by Themba en wil graag ander met dieselfde probleem help.
Vir meer inligting oor Themba, kontak 021-936-7240 of pastoor Vernon Jacobs by 083-766-7495.