Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Storting kry nuwe aanslag

Storting kry nuwe aanslag
 
2009-08-27

Sieb Sieberhagen

BAIE van die amper 200 ton vullis wat daagliks deur die Drakenstein Munisipaliteit na die oorlaaistasie en stortingsterrein aangery word, gaan eersdaags ’n ander paadjie volg.

Die herwinningsafdeling in Distillerystraat is tans in ’n toetsfase, en alles dui daarop dat dit teen die einde van die jaar ten volle in werking sal wees. Die ou meul is omskep in ’n herwinningsaanleg wat ongeveer 60 tot 80 ton vaste afval per dag kan hanteer.

Herwinning is hoog op die prioriteitslys en vanaf September sal inwoners by Boschenmeer reeds deurskynende sakke by die munisipaliteit ontvang waarin herwinbare items soos papier, karton, plastiek, polistireen en blikkies gegooi kan word. Dié soort afval staan bekend as “droë” afval.

Vir die toetsfase sal inwoners van Boschenmeer ook swartsakke ontvang vir die “nat” afval. Die swartsak vullisverwyderingsdiens is slegs tydelik van aard totdat dié area van 240l vullishouers voorsien word.

Die diens sal later na die ander sekuriteitsgebiede en dan na die res van Drakenstein uitgebrei word. Inwoners sal ook eersdaag ’n kennisgewing ontvang oor hoe dit gaan werk.

Dié “droë” vullis sal dan saam met die ander vullis by die huise opgelaai word, vertel Hannes du Preez, bestuurder van vaste afval by die oorlaaistasie in Distillerystraat.

“Ons is alreeds vir ’n geruime tyd besig om glas, papier, blik en in ’n mindere mate skrootyster by die oorlaaistasie in Distillerystraat te herwin.

“Die publiek kan ook hulle tuinvullis na die oorlaaistasie bring. Daar word ook ongeveer 10 tot 20 ton tuinvullis per dag opgemaal, wat ’n groot hoeveelheid lugspasie by die stortterrein bespaar.

“Tuinvullis en boomtakke neem baie spasie op indien dit nie gekomposteer word nie. Deesdae is storting baie duur. Dit kos ons maklik R25 000 per dag om die vullis te stort en die terreine op standaard te hou,” sê hy.

“Die publiek moet ook onthou dat tuinvullis van minder as een ton hier gratis afgelaai kan word tot vyf keer per maand, sonder om te betaal. Ons is een van die min munisipaliteite waar dit gratis gedoen word.

“Statistieke het bewys dat ’n mens ongeveer 10% van jou vullis kan herwin, maar ongelukkig kan ons ook net sekere vullis herwin.

“Vir baie van die herwinningsitems is daar nie ’n aanvraag nie. In sekere gevalle is dit ook baie duur om afval van ’n sekere kwaliteit te herwin, soos byvoorbeeld koerantpapier.

“Dit is ’n baie duur proses om die ink uit die papier te kry wat beteken dat ons nie koerantpapier herwin nie.”

Drakenstein munisipaliteit het ook reeds 30 bottelbanke op verskillende punte laat uitplaas. Nog 15 nuwe banke is aangekoop en is ook in die proses om uitgeplaas te word. Indien die glas gebreek is, kan die houers tot 3 ton berg, vertel Du Preez.

“Herwinning by besighede word ook in die vooruitsig gestel. Ons doen ’n beroep op besighede om met die sortering te help.

“Ons het goeie vooruitsigte, maar het steeds ’n groot probleem met onwettige stortings. Dit is ’n groot euwel en dit kos die belastingbetaler baie geld.

“Daagliks moet ons omtrent 100 ton se onwettige stortings opruim,” sê hy.

* The Drakenstein Municipality is now actively promoting recycling with a launch project in Boschenmeer kicking off in September.




More News
  • Manager did much good work
  • Zandwyk Park goes ahead
  • Rare wines hold their own at auction
  • Multiple awards for Grande Provence
  • Grondkundige kragte saamgespan
  • Fairtrade vloei suiwer by Bosmans
  • Sweet success for Nederburg
  • “TERROIRIST” at Nederburg Auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za