Kommer oor erosie
2009-08-27
Christine Siebrits
VLOEDSKADE aan die rivierwalle op Wellington het ’n tameletjie geword, omdat omgewingswetgewing en burokratiese rompslomp dit feitlik onmoontlik maak om herstelwerk te doen. Wellington is geseënd met pragtige boomryke riviere wat ’n uitsonderlike bate en toeriste-aantreklikheid kan wees, mits die riviere en die oewers goed versorg word. Die dorp word deurkruis deur drie riviere: die Spruitrivier, Kromrivier en Leeurivier, wat aldrie die afgelope jaar of twee erg onder vloedwater deurgeloop het. Op verskeie plekke het die walle erg weggekalwe en is mure en pypleidings in die gedrang. Weens beperkte befondsing en veranderde wetgewing wil dit lyk asof die inwoners van Wellington geen hulp van owerheidsweë gaan kry nie. Reeds sedert 2005 is verskeie versoeke tot die Munisipaliteit gerig deur die Verfraaiingskomitee en die wyksraadslid, Johan von Wielligh, om minstens obstruksies in die vorm van opdrifsels en omgevalle bome in die rivierlope te verwyder, met min sukses. Tydens die reënseisoen raak die blokkasies erger en riviere oorstroom hul walle en veroorsaak verdere skade wat ook aangrensende eiendomme bedreig. Hoewel die Munisipaliteit vroeër jare dit as hul verantwoordelikheid beskou het om die rivierwalle te onderhou, voer hulle nou aan dat dit die oewereienaars se verantwoordelikheid is. Drakenstein Munisipaliteit se hoof van ingenieursdienste, Leon Coetzee, het twee jaar gelede teenoor Charl Tomlinson van die Wellington Verfraaiingskomitee onderneem dat die erosie van die wal van die Spruitrivier aangespreek sal word langs die Voortrekkersaal (wat op munisipale grond staan). “Alle ou omgevalle bome sal uit die rivierloop verwyder word. Die verspoelde gedeeltes van die rivier sal met ‘rip rap’ (groot klippe) versterk word en met grond opgevul word.” In nog ’n brief het hy onderneem dat boomstompe uit die Leeurivier verwyder sou word en die rivierwalle skoongemaak en waar nodig gestut sou word gedurende Februarie 2008. Dié werk het nooit plaasgevind nie. Ná swaar reën in Julie verlede jaar wat walle verder weggekalwe het, versoek Von Wielligh weer dat daar gewerk word aan die Spruitrivier vanaf Generaal Hertzog Boulevard tot by die Wellington Krieketveld, en die Leeurivier langs die Voortrekkerterrein in Kerkstraat. “Stormwater het dele van die rivierwalle ernstig beskadig en dit moet dringend aandag kry om buitensporige herstelkoste wat mag ontstaan, te verminder,” meen Von Wielligh. Maar in September verlede jaar reageer die Munisipaliteit as volg: “Die herstelwerk in die Spruitrivier sal gedoen word soos fondse en werksomstandighede dit toelaat. “Daar kan tans nie in die Leeurivier gewerk word nie aangesien ’n omgewingsimpakstudie eers gedoen moet word.” VolgensVon Wielligh het die omgewingsimpakstudie betrekking op die vleiagtige gebied by die ingang na Berg-en-Dal, waar eiendomsontwikkelaars glo die voorskrifte van die Departement Waterwese oortree het, en het dit niks te make met die instandhouding van die rivieroewers nie. Maar by ’n wyksvergadering vroeër vanjaar is inwoners meegedeel dat grondeienaars langs die rivier hul eie potjie sal moet krap indien walle mee gee. Die Munisipaliteit kan nie op private eiendom werk nie en daar is nie fondse om die Voortrekkerterrein, wat munisipale eiendom is, te herstel nie. Indien hulle munisipale hulp wil hê, sal hulle waarskynlik moet help betaal aan ’n omgewingsimpakstudie, aangesien nuwe wetgewing dit verplig vir enige werk in ’n rivierloop. Grondeienaars in die Leeuvenrivier-kompleks is erg bekommerd omdat die sandsakke wat deur die munisipaliteit gepak is om die ringmuur te stut, onvoldoende is, maar hulle is terselfdertyd ingelig dat hulle nie self stutwerk mag doen sonder ’n omgewingsimpakstudie nie. Volgens Von Wielligh word beoog om ’n publieke vergadering te reël waar die verpligtinge van oewereienaars en die Munisipaliteit verduidelik sal word. Voordat in ’n rivierloop gewerk mag word, moet glo geskakel word met die Departement Waterwese (vir ’n watergebruiklisensie wat verlof gee om ’n rivierloop te verander), die Departement Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning (omgewingsimpak-goedkeuring) en die Munisipaliteit (vir verlof om strukturele werk te doen soos draadmandjies te pak). Die verwydering van indringerplante in ’n rivierloop word verder ook beheer deur die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne. Vrystelling van die verpligting om ’n omgewingsimpakstudie te doen, mag moontlik verkry kan word indien noodmaatreëls getref moet word om lewensverlies en verdere vloedskade te verhoed met oewerstabilisasie. Hieroor sal ’n omgewingskonsultant egter geraadpleeg moet word. * Residents of Wellington are very concerned about the erosion of river banks, which is affecting their properties.
More
News
|