Onmin oor huise duur voort
2009-08-27
DIE behuisingskemas in Drakenstein wys vordering, maar waglyste, waar sekere aansoekers voorkeur bo ander kry, asook die tekort aan fondse en die uitgerekte burokratiese prosesse, bly steeds die stokke in die wiel om die proses seepglad te laat verloop. Drakenstein Munisipaliteit benodig R100 miljoen om dié behoefte aan te spreek. Ongelukkige inwoners onder leiding van pastoor Leon Smit het onlangs by die munisipale kantore daaroor betoog en hy het ook verlede week ’n vergadering met Arthob Petersen, burgemeesterskomiteelid vir behuising, daaroor gehad. Petersen sê die vergadering het goed afgeloop, terwyl Smit aanvoer dat die ANC nie die antwoorde kan gee nie en nou die skuld op die DA pak. Die waglys vir stedelike behuising in Drakenstein het die afgelope ruk van 25 000 tot 19 991 verminder, sê Petersen. Dié afname is verlede week tydens die burgemeesterskomitee-vergadering geloof, maar steeds is daar ongelukkige inwoners wat sê die stelsel het hulle ingedoen. Volgens Petersen het die ongelukkigheid oor die waglyste begin nadat die DA, toe hulle in 2007 vir ses maande in beheer van die Raad was, ’n besluit geneem het dat die toekenning van HOP huise nie net volgens die waglys moet plaasvind nie, maar dat inwoners wat in informele nedersettings woon en nie op die bestaande waglys is nie, ook voordeel daaruit moet trek. “Daar is toe besluit dat 50% van die toekennings van die waglys moet kom en die ander 50% van inwoners wat in informele nedersettings bly. Dié reëls geld steeds. Dit veroorsaak ongelukkigheid en ons sal weer daarna moet kyk. “Ongelukkig is die nood baie hoog en ons spandeer selfs meer as die toegelate begroting om die mense te help. In 2008 het ons 105% van die behuisingsfondse gebruik. Ons benut elke sent. “Ons wil selfs verder gaan om direkte akkreditasie by die nasionale regering te kry om fondse te bekom om die probleem aan te spreek. Indien dit slaag, sal ons plaaslik die besluite kan neem wat die proses sal bespoedig,” sê hy. Meer as 4000 laekoste huise gaan in die onmiddellike toekoms voltooi word, sê Petersen. Dit sal geskied in die skemas New Siyazama (Mbekweni), Skema 59, Skema 49, Drommedaris en Noodkamp. Drie ander projekte (wat nog 4 500 laekoste huise insluit) word in die vooruitsig gestel. Dit sluit in die skemas Schoongezicht (360 eenhede), Gouda (156 eenhede) en Vlakkeland (4 000 eenhede). Twee oorgangsbehuisingsprojekte (gap housing) is ook goedgekeur en daar is reeds werk gemaak van die omgewingsimpakstudies. Die een projek is naby Groenheuwel en die ander langs die Drakenstein swembad in Paarl-Oos. Meer as 1000 huise word beplan. Daar word ook tans aan drie behuisingsprojekte in die landelike omgewing aandag gegee, sê hy. “Dit is die Paarl plaasprojek (300 eenhede langs die Bolandpark Krieketstadion), die Simondium projek (435 eenhede) en die Nieuwedrift projek (365 eenhede). Twee projekte, Projek 1068 in Carterville op Wellington waar 930 eenhede moet verrys, en die Amstelhofprojek 35 in Paarl-Oos (236 eenhede) is tydelik op ys gesit weens administratiewe probleme en daar word vir terugvoering van die Wes-Kaapse regering gewag. By die New Siyazama PHP projek het alles tot dusver ook nie glad verloop nie. Die projek is gestop nadat fondse daarvoor glo wanaangewend is. Drakenstein Munisipaliteit hanteer nou die administrasie daarvan. Die New Siyazama projek het ook 60 minder huise omdat ’n ondersoek tans aan die gang is. Begunstigdes het intussen hulle probleme bygelê.
More
News
|