Twee uur lank vasgepen
2009-08-27
Lise Beyers
’n DRAMATIESE reddingstoneel het Vrydagoggend op Wellington afgespeel, nadat ’n vragmotor bo-op ’n voertuig beland het. Die voorval het ongeveer 09:15 plaasgevind, toe ’n Ford Fiesta van ’n bestuurskool by Champagneweg opgery het. Die bestuurder van ’n vragmotor wat in die teenoorgestelde rigting onderweg was, het op die nat pad beheer verloor oor die voertuig en in die Ford vasgery. Dit het veroorsaak dat die motor omgeslaan het, en die vragmotor het bo-op die motor beland. ’n Leerlingbestuurder, Dorothy Julius (38), en haar instrukteur, Susan van Heerden (46), is vir sowat twee ure onderstebo in die platgedrukte wrak vasgekeer, voordat hulle uitgesny kon word deur reddingswerkers. Wonderbaarlik is hulle albei met slegs ligte beserings na die hospitaal geneem. Reddingswerkers het die reddingspoging as uiters moeilik bestempel, weens die sensitiwiteit van die vragmotor wat bo-op die motor gelê het. Enige verkeerde beweging kon veroorsaak het dat die motor verder platgedruk word met sy slagoffers daarin. Die vragmotorbestuurder van Paarl Waste Paper was erg geskok deur die voorval. * Dinsdagoggend is ’n man dood, toe die bakkie waarin hy ’n passasier was, in ’n kop-aan-kop-botsing betrokke was met ’n vragmotor, in uiters mistige omstandighede. Die voorval het op die Voor-Paardebergpad plaasgevind, tussen Landbouskool en Perdeberg Wynkelder. Die bestuurder van die bakkie was vermoedelik besig om ’n ander voertuig verby te steek, toe hy in swak sig die vragmotor getref het (foto bl 5). Willem Booysen van Steenkampstraat, Paarl-Oos, is op slag dood en die bestuurder en nog ’n insittende is lig beseer. Die bestuurder van die vragmotor is vir skok behandel. ’n Woordvoerder van die verkeersafdeling het die publiek gemaan om in enige swak ligomstandighede hul voertuie se ligte aan te skakel, ook in die dag, om sodoende sigbaarheid te verbeter. * Two women were trapped for almost two hours in a car that had been crushed by a truck. A man died in another crash.
More
News
|