Villagers trap Tiere
2009-08-27
DEUR Young Peoples Saterdag met 19-15 te klop, het Pniel Villagers die relegasie-spook totaal verdryf om te verseker dat hulle weer volgende jaar om die Superliga B-kroon sal kan meeding. Die Pniel-manne kan hulself gelukkig ag dat hulle vier punte op hul tuisveld kon insamel, want as die Tiere nie soveel aanslane in die agterlyn begaan het nie, kon die besoekers maklik as oorwinnaars van die veld gestap het. Elke keer as Peoples die bal met sukses wyd gespeel het, moes die tuisspan hul keer behoorlik ken. So het Peoples ook eerste bloed geruik, toe hulle reeds vroeg in die wedstryd, na ’n volle agterlynbeweging, die eerste punte behaal het om met 7-0 voor te loop. Die tuisspan se Angelo Nelson het teen die verloop van spel die gelykmakende punte aangeteken, toe hy ’n aanslaan deur Peoples kon optel en deurnael vir ’n drie onder die pale. ’n Verdere drie deur Fernando Adams, wat verdoel was deur Riaan Windvogel, het die rustydtelling op 14-5 te staan gebring. Daar het egter ná rustyd ’n insinking in die tuisspan se spel gekom, met Peoples wat die lynstane totaal oorheers het. Met meer as 70% balbesit kon die Paarl-manne egter steeds nie die Pnielers uitoorlê nie, met die tuisspan se verdediging wat uitstaande was. Hier was veral Fernando Adams ’n yster. Villagers se agterlyn het ook by geleentheid mooi aangeval, met ’n netjiese agterlynbeweging wat tot Windvogel se drie gelei het. Twee strafdoele en ’n drie deur die Tiere, in die doodsnikke van die wedstryd, het die eindtelling op 19-15 te staan gebring. Die wedstryd was hard en taai maar in ’n goeie gees gespeel en goed beheer deur die skeidsregter, Johan Lourens. * Young Peoples speel Saterdag teen Tygerberg op die Daljosafat-stadion. Na afloop van dié wedstryd, sal daar ’n halwe hoender-braai wees teen R40.
More
News
|