Streekkampioenskap op mespunt
2009-08-27
MET die laaste ronde van die Paarl Rugby Streek-ligawedstryde wat Saterdag beslis sal word, het vanjaar se kompetisie weereens ’n spannende einde in sig. Soos in 2008 sal die liga-titel met die laaste wedstryd van die seisoen bepaal word, met Riverstones wat in die binnebaan is om dié gesogte titel te verower. Riverstones is tans een punt voor Young Standards. Riverstones het Saterdag daarin geslaag om Simondium, in Simondium, met ’n bonuspunt te verslaan (24-6) in die laaste minuut van die wedstryd. Standards het op sy beurt hard probeer vir ’n bonuspunt teen die 2008 se liga-kampioen, Windmeul United, maar kon in die proses slegs 3 drieë aanteken in hul 17-6 oorwinning op Windmeul se tuisveld. ’n Oorwinning vir Riverstones teen Laer Paarl op Daljosafat mag egter nie genoeg wees om die titel te verower nie, aangesien Standards ’n beter punteverskil het as Riverstones. Standards sal, op Faurestraat-stadion, ’n bonuspunt teen die gedugte span van Young Gardens moet behaal, met die hoop dat Riverstones nie ’n bonuspunt teen Laer Paarl behaal nie. Kry Riverstones dit Saterdag reg om ’n oorwinning en vier drieë teen Laer Paarl, wat tans derde op die punteleer lê, te behaal, sal hulle as die Paarl Streek-ligakampioene gekroon word. Gardens se tweede span is tans onoorwonne en het reeds die tweedespan-ligatitel ingepalm. Riverstones se derde span het die derdespan-ligatitel verower.
More
News
|