Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Kata-koning

Kata-koning
 
2009-08-27

Jaco van Wyk

“ELKE dag word jong sportmense in die vallei deur positiewe en negatiewe uitdagings in die gesig gestaar. Dit is belangrik om weg te stap van die negatiewe en die positiewe aan te pak, met die wete dat dit ’n sukses sal wees.”

Met dié woorde, gepaard met ’n duidelike teenwoordigheid van trots en toegewydheid tot die sport wat hy beoefen, is dit geen wonder dat Etienne Marais onlangs aangewys is as die nommer een senior kata-karateka in Suid-Afrika nie.

Dié besonderse prestasie het Marais vermag toe hy as lid van die Boland Hayashi-ha karate-span ’n goue medalje ingepalm het in die senior mans kata-item tydens die senior kampioenskappe in Port Elizabeth.

Altesaam ses van Marais se mede-karatekas by sensei Patrick Ross se Hayashi-ha karateklub in die Paarl het daartoe bygedra dat die Boland-span, met die meeste medaljes tydens dié kampioenskappe, heel bo geëindig het.

Ná 17 jaar as karate-student, beleef die 24-jarige oud-leerder van Klein Nederburg Sekondêr vanjaar verseker sy beste jaar tot op hede, ná hy vanjaar ook die SA karatespan gehaal het wat in Oktober gaan deelneem aan die Statebondspele in Pretoria.

Volgens Marais gaan kata meer oor “voorlegging” en is dit nie so “fisies soos kumite nie.

“Kata behels eerder saamgestelde bewegings wat die tradisionele wyse van karate uitbeeld,” sê hy.

“Om in kata uit te blink, verg absolute konsentrasie en konstante oefening.”

Terwyl ’n karateka in kata man-alleen is op die vloer, bestaan unison kata uit drie karatekas wat gelyktydig ’n kata uitvoer. Paarl Hayashi-ha se unison kata-span, bestaande uit Marais, John Solomon en Marcello Ross, is tans tweede in Suid-Afrika in dié item.

Kumite is weer die meer fisiese vorm van karate, waartydens twee karatekas mekaar die stryd aansê.

Volgens Marais het hy met karate begin nadat hy beroof is by ’n atletiek-byeenkoms.

“My pa, wat toe nog gelewe het, het voorgestel dat ek ’n sport beoefen wat my sal leer om myself te kan verdedig.

“Aangesien my pa op sy dag ’n bokser was, het ek aanvanklik na die Ambagsvallei-sportsaal gegaan om te sien hoe die ouens mekaar die stryd aansê in die bokskryt. Dit was toe dat ek op een van sensei Ross se karateklasse afgekom het,” sê Marais.

Marais se grootste junior prestasie was in 1995, toe hy tweede gekom het tydens die wêreldkampioenskappe in Skotland.

In 2002 het hy ’n jaar afgevat van karate, om op sy studies en rugby te konsentreer - Marais het uitgedraf vir die WP Korrektiewe Dienste Rugbyklub.

In 2005 het hy ’n terugkeer tot karate gemaak en besluit om sy senior karate-loopbaan ernstig aan te pak. Dié besluit het verskeie provinsiale prestasies tot gevolg gahad.

Volgens Marais is karate baie na aan sy hart en dra dit selfs by tot sy beroep as finansiële adviseur by Sanlam - dus was dit vir hom ’n teleurstelling toe karate nie onlangs Olimpiese aanvaarding gekry het vir 2016 se sportskouspel nie.

“Olimpiese deelname sou beslis deel van my toekomsplanne gewees het,” sê Marais, “maar met die oneindige ondersteuning van my familie, veral dié van my ma en suster, gaan daar gelukkig nog baie ander geleenthede wees om my land te verteenwoordig.”




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za