VANAF 17 tot 19 Augustus het ek as ouer, maar ook opvoeder, die plaaslike kooraande van die Paarlvallei Eisteddfod bygewoon.
Dit was goed-georganiseerde aande, die beoordelaar is op sy plek en ek moet sê, ken sy musiek.
Die aand begin met die kleuterkore. Nadat die eerste koor gesing het, begin die sirkus. ’n Kwart van die ondersteuners spring op en gaan uit.
Van die kwart kom ’n paar terug en die ander gaan huis toe. So gaan dit aan tot die hoërskoolkore begin sing.
Die stampvol saal is nou half leeg, want ná elke koor is daar mense wat of hul kinders gaan haal en terugkeer of heeltemal die saal verlaat.
Ek weet verseker dat elke skool toesighouers gereël het om na die kinders om te sien tot aan die einde van die sangaand. Ek weet dit, want ek was vir baie jare betrokke by kooraande in skoolverband.
Wat het geword van kultuur en trots? Ek is seker dat die hoërskool-afrigters hard gewerk het en dat die kinders ook graag ’n gehoor wou hê om na hulle te luister.
Ek moet egter vir Wellington se ouers ’n pluimpie gee, want verlede week was hul Eisteddfod en byna al die ouers het tot aan die einde van die sangaand gebly.
Kom ons as ouers probeer om elke afdeling van die eisteddfod heelhartig te ondersteun en nie net te bly tot ons kind klaar opgetree het nie. Dit is nie ’n mooi advertensie vir ons as Paarliete nie.
C Koopman (Oud-bestuurslid Paarlvallei Eisteddfod)