DRAKENSTEIN MUNISIPALITEIT se hantering van erosieprobleme in Wellingtonse riviere oor die afgelope aantal jare is ’n sprekende voorbeeld van die onbeholpenheid waarmee van die senior amptenare sommige netelige en dringende kwessies hanteer.
Mense se eiendom spoel weg, maar hulle word gekniehalter weens owerheidsrompslomp.
Hierdie houding dwing oewereienaars om sogenaamd onwettig op te tree deur strukture aan te bring, teen groot persoonlike koste, wat hopelik hulle eiendom tydens die gereelde vloede sal beskerm.
Die munisipaliteit is lank reeds deeglik bewus van die situasie, maar sit hande gevou sonder om oewerbewoners by te staan.
Die kwessie word soos ’n warmpatat hanteer in plaas daarvan om daadwerklik vir sy belastingbetalers van hulp te wees.
Indien dit dan so is dat ander owerheidsinstellings soos Departement Waterwese (DWAF) betrek moet word, moet die betrokke munisipale departementshoof die leiding neem om die partye bymekaar te kry en seker te maak dat ’n praktiese oplossing met ’n aanvaarbare tydsraamwerk amptelik ooreengekom word.
Om op hierdie laat stadium te noem dat moontlike bouwerk eers oor twee jaar dalk mag begin, is totaal onaanvaarbaar. Hier is duidelik ernstige voetslepery en lyfwegstekery aan die orde van die dag.
Pieter du Toit, Wellington
May Carolissen, skakelpersoon van die Drakenstein Munisipaliteit, reageer: Die Munisipaliteit is in die proses om ’n konsultant aan te stel om die erosieprobleme in die verskillende riviere te ondersoek en ’n aanbeveling te maak met betrekking tot voorgestelde oplossings.
Die munisipaliteit het besluit om die ondersoek te loods aangesien dit moeilik deur die verskillende oewereienaars gekoördineer kan word.
Die ondersoek sal die tegniese oplossings en omgewingsprosesse wat gevolg moet word, uitlig.
Die kostes vir die herstelwerk sal egter deur die onderskeie oewereienaars (insluitende die munisipaliteit waar van toepassing) gefinansier moet word.
Waar daar noodtoestande bestaan weens die erosieprobleme kan toestemming by die toepaslike owerhede (Waterwese en Omgewingsake) verkry word vir tydelike herstelwerk.
In beginsel is elke oewereienaar verantwoordelik vir die beskerming van sy eiendom, in die gevalle die rivieroewer. Die Departement van Waterwese en Omgewingsake is egter die owerheid wat die nodige toestemming verleen en die voorgeskrewe prosedure moet gevolg word.