Hugenote knak Swartland
2005-08-25
DIT was ’n stoomroller-sege vir die Hoërskool Hugenote in hul jaarlikse interskole teen Hoërskool Swartland op Malmesbury.
Die eerste rugbyspan se 22-3 oorwinning het natuurlik die kroon gespan op ’n dag wat heeltemal in die Wellingtonners se guns gedraai het.
Hugenote was baas in beide die lynstane en die skrums, en danksy die baie besit kon die agterlyn na hartelus baljaar.
Dit het die heelagter, Thys Faure, en skrumskakel, Hennie Broodryk, albei die geleentheid gegee om in die eerste helfte te gaan druk.
In die tweede helfte het die vleuel, Kyle Hagglund, die Wellington-ondersteuners weer eens rasend gehad toe hy 75m ver nael om ook in die doelgebied te gaan kuier.
Hugenote se losskakel, Garth Abrahams, was suksesvol met twee doelskoppe en ’n strafskop.
Die Wellingtonners het behoorlik skoonskip gemaak en ook die res van die rugbywedstryde gewen. Die ander tellings is o.19B 26-5, o.19C 39-19, o.16A 5-0, o.16B 52-0, o.15A 24-12, o.15B 10-5, o.14A 27-10 en o.14B 53-10.
Die eerste seunshokkiespan het ewe goed gespeel en hul eweknieë 4-1 geklop.
Andre Pienaar wat drie doele ingeskiet het, was hier die groot uitblinker, terwyl Gushuon van Loggernberg ook die agterkant van die net opgesoek het.
Die eerste meisiehokkiespanne het 1-1 gelykop speel en die o.19A netbalmeisies het ook hul teenstanders 25-12 kaf gedraf het.
More
News
|