Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Sjefs laat waai agter diewe aan

Sjefs laat waai agter diewe aan
 
2009-09-03

Lise Beyers

AANDETE is Saterdagaand byna gekanselleer by De Oude Paarl Hotel in die Paarl, toe die hoof- en assistentsjef die pad gevat het agter motordiewe aan.

Die drama het Saterdagaand afgespeel, terwyl die kombuis ’n warboel van voorbereidings was vir gaste se aandete.

Sjef Keanen Bailey (21) was druk besig in die kombuis, toe ’n kollega vir hom laat weet het dat hy gehoor het hoe Keanen se motor, ’n bloedrooi Honda Ballade, wegry.

“Ek en die hoof-sjef, Daniel Haskins, is dadelik na buite, net om te sien hoe my motor in die rigting van die N1 verdwyn.

“Ons het in Daniel se motor geklim en hulle agternagesit. Eers naby Klapmuts het ons weer my motor raakgesien.”

Hulle het die motor al hoe verder in die rigting van Kaapstad agtervolg.

Intussen het Keanen sy pa, Graham, gebel, wat dadelik die Paarl polisie van die diefstal van die voertuig in kennis gestel het, asook die feit dat sy seun agter die rowers aan is.

“Hulle het gesê dat hulle oor die polisieradio die voorval sou uitsaai en dat hulle vir ons op hoogte sal hou. Keanen het aanmekaar vir my gebel om te laat weet presies waar hulle is.

“Maar ek wag nou nog vir ’n oproep van Paarl polisie.”

Nader aan Kaapstad, het die motorrowers in die rigting van Goodwood afgedraai.

Keanen en Daniel was steeds op hul hakke, maar die mans het teen hierdie tyd snuf in die neus gekry dat hulle agtervolg word, en het in die rigting van Epping verdwyn.

Keanen en Daniel is inderhaas terug Paarl toe om na gaste se eetlus om te sien, terwyl Graham, wat agterna gery het, die voorval by die Elsiesrivier polisiestasie gerapporteer het.

Eers later die aand het lede van die Paarlse polisie by die Baileys in Denneburg aangeklop om ’n dossier te open.

“Ek het die heeltyd gevrees vir my seun se veiligheid en is baie ontevrede met die optrede van die Paarl polisie.

“Dit sou so maklik gewees het om vir hulle te vang as ’n noodsein uitgereik is om die diewe te stop, veral met die padwerke op die N1.”

Sondag het hulle die goeie tyding ontvang dat Keanen se motor verlate in Langa gevind is.

Maar dit was met gemengde gevoelens dat Keanen sy voertuig teruggekry het. Dit is beslis nie meer sy blink hart-se-punt nadat die diewe daarmee klaar is nie.

Die agterste sitplek is gebreek om toegang tot die kattebak te kry, die hoëtroustel ter waarde van duisende rande, waarvoor Keanen so hard gewerk het, is uitgeruk, en die duur wielvellings en bande is weg.

Verskeie ander waardevolle items is ook vanuit die motor gesteel, soos Keanen se gespesialiseerde sjefmesse.

“Ek is nou nie meer seker of ek die motor wil hê of nie. Dit voel asof my privaatheid geskend is.”

Die polisie waarsku dat die diefstal van motors weer ’n probleem in die gebied is. Die afgelope naweek is motors gesteel by Hugenot-stasie en in Bethelstraat.

’n Man van Wellington vertel dat sy motor reeds drie keer gesteel is in die laaste paar maande, maar dit is elke keer teruggevind.

Die eerste keer wat Ian Smith van Wellington se Ford Laser gesteel is, is dit in ’n padblokkade teruggevind.

En die derde keer wat dit gesteel is, is dit verlate gevind naby die Paarl polisiestasie.

Elke keer is groot skade aangerig, en die laaste keer is sy agterruit gebreek. Dit lyk asof die rowers die motor wou opknap om dit te gebruik vir straatresies.

* Two chefs from Paarl chased down car thieves all the way from Paarl to Cape Town, before losing their trail near Epping.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za