AFHANKLIKHEID en verslawing aan alkohol en dwelmmiddels het ’n vernietigende effek op beide die gebruikers en hul familielede, werkgewers, vriende en die gemeenskap.
Tradisioneel is die opsies vir behandeling beperk tot binnepasiëntebehandeling (inwonende by ’n behandelingsentrum of hospitaal) algemeen bekend as “rehab”.
Vir baie sonder hulp van ’n mediese fonds is dit finansieel onbekostigbaar en staats- of gemeenskap befondste sentrums is propvol oorlaai met lang wagperiodes voor behandeling kan begin.
Wat dan van die huisvrou of ma met verpligtinge, die student wat moet aanhou klasse bywoon en studeer of die werkende man en vrou wat as gevolg van werkverpligtinge en nodigheid om geld te verdien nie kan weggaan vir behandeling nie?
Volgens dr Pierre Louw, wat ’n buitepasiënteprogram (learn2change) vir alkohol- en dwelmafhanklikheid in die Paarl aanbied, was bogenoemde genoeg motivering vir hom om te gaan soek na ander opsies wat suksesvol kan wees in die behandeling van middelverwante afhanklikheid.
Die Matrix-program is ’n buitepasiënteprogram waartydens pasiënte na ure drie maal per week behandelingsessies bywoon, maar nog steeds sosiaal en ekonomies aktief bly in hulle gemeenskappe, werksplekke en families.
Met binnepasiëntebehandeling moet besef word dat ná ’n tydperk van hospitalisasie, pasiënte nie naby aan enige vorm van “genesing” is as hulle die sentrum verlaat nie. In die sentrum is hulle “kunsmatig” beskerm weg van hul middel van keuse en het die struktuur van die gebou en program om hulle verder te beskerm.
Daarbuite wag al hulle snellers (“triggers”) en probleme nog op hulle en is opvolgbehandeling en berading nodig om te help om dit te hanteer.
Met buitepasiëntebehandeling het die pasiënte daaglikse blootstelling aan snellers in hulle gemeenskappe, familielewe en werksplekke terwyl hulle behandeling kry en kan sulke probleme effektief aandag kry.
’n Sterk komponent van die program is ook die aktiewe opleiding en deelname weekliks van familielede en afhanklikes om te leer hoe om die situasie beter te kan hanteer en meer effektief te ondersteun.
Buitepasiëntebehandeling is dus ook ’n opsie vir mense wat nie weg kan gaan vir hospitalisasie as gevolg van hulle werk- of studie- of familieverpligtinge nie, veral as daar ook nie mediese of psigiatriese indikasies is wat opname vereis nie. Dit kan ’n beter opsie wees vir werkgewers wat hulle werknemers wil help, maar nie kan bekostig om hulle vaardighede te verloor nie.
Die sukses van so ’n buitepasiënteprogram is gebaseer daarop dat mense vir langer periodes meer koste-effektief behandel kan word.
Buitepasiëntebehandeling is dus ook ’n opsie met bewese sukses. Dr Louw kan gekontak word vir meer inligting by 021-863-1844 of by 083-283-5278 of epos mailtopierre@absamail.co.za.