Beseringspook tref Kavaliers
2009-09-03
Jaco van Wyk
ASOF die Boland Kavaliers nie reeds sukkel om kop bo water te hou in vanjaar se Curriebeker rugbykompetisie nie, met talle beserings wat enige vorm van momentum by die Wynboere ontwrig, is hulle nou met nóg ’n terugslag getref. Ná hul teleurstellende vertoning teen die Luiperds die afgelope naweek, ’n wedstryd wat Boland met 16-50 verloor het, moes die Wellingtonners reeds sonder hul staatmaker-skrumskakel Marnus Hugo klaarkom. Die belowende skrumskakel Danie van der Merwe moes vir Hugo instaan, maar met van der Merwe die nuutste toevoeging tot die Kavaliers se krukkelys, is die uitdaging vir die manne van Wellington nou nóg moeiliker om binnekort die wen-noot te sing. Die Haaie beskik oor ’n meneer van ’n span en boonop het hulle een van Suid-Afrika se voorste skrumskakels, Rory Kockott, wat môre weer die nommer nege trui vir sy span behoort te dra. Die Kavaliers sou dus met soveel ondervinding as moontlik kon klaarkom teen die Durbaniete, maar Van der Merwe se besering maak nou die deur oop vir die jong Charlie King, om vanuit die skrumskakel-posisie die nodige vonk aan Boland se agterlyn te verskaf. Boland speel môre 15:30 teen die Haaie op die Boland-stadion.
More
News
|