Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Goliath met 3de Dan vereer

Goliath met 3de Dan vereer
 
2009-09-03

Jaco van Wyk

MET sy onlangse besoek aan Europa, waar hy deelgeneem het aan die All Senior Aikido-toernooi in Noord-Italië, is Elroy Goliath met ’n uitsonderlike prestasie beloon toe hy met sy 3de Dan sertifikaat vereer is.

Dié sertifikaat, wat deur die Aikido Hoofkwartiere in Tokyo uitgereik is tydens ’n gradering-seremonie (ná afloop van die 10-dag oefenkamp in die Alpse dorpie Laces), het Goliath ontvang vanaf sy instrukteur, Shihan Yoji Fujimoto (7de Dan).

Fujimoto, ’n Japanese meester en een van die hoogs-gegradeerde Aikido-instrukteurs ter wêreld, is ’n direkte student van die stigter van Aikido.

In ’n neutedop is Aikido ’n praktiese selfverdedigingstyl. Dié styl lê klem op die nie-aggressiewe hantering van ’n aanvalsituasie. Basies word daar op die aanvaller se aanvalsmomentum gereageer.

“Die fokus is dus op draaibewegings deur die verdediger, wat die aanvaller se momentum gebruik om hom mee te immobiliseer,” sê Goliath, “dus hoe vinniger, groter en sterker die aanvaller, hoe beter.

“Aikido is waarskynlik aan die westerse wêreld bekendgestel deur akteur Steven Seagal, wie self ’n Aikido instrukteur is.”

’n 3de Dan in Aikido is ’n baie senior vlak. Met dié gradering verkry Goliath onder andere toestemming vanaf die Hoofkwartiere in Japan om sy eie studente met volle erkenning tot die swart gordel (1ste Dan) te eksamineer.

Alle swartgordel-graderings (1ste tot 5de Dan) sal egter deur Fujimoto Shihan in Suid-Afrika (of in die buiteland) behartig word. Drie van Goliath se seniors (van die Paarl) sal ook binnekort deur Fujimoto Shihan vir die 2de Dan geëksamineer word.

Goliath, ’n doktor in chemiese ingenieurswese, is die eerste persoon in Suid-Afrika om in Aikido ’n 3de Dan-gradering direk vanaf ’n Japanese Shihan te ontvang.

“Dit was ’n besonderse voorreg om met my 3de Dan vereer te word, veral aangesien daar so baie hindernisse was om te oorkom,” sê Goliath.

“Om uiteindelik die intense gradering te kon voltooi en die Sandan tydens die seremonie te ontvang, was dus baie eksklusief. Vir my was dit egter ook baie belangrik, aangesien dié gradering so baie vir my studente beteken,” voeg Goliath by.

“Elke student wat onder my oefen, weet dus hulle ontvang eerstehands die hoogste vlak van Aikido beskikbaar in die wêreld vandag.”

Met dié prestasie het hy nou ’n nuwe nasionale Aikido organisasie gestig - Aikido Suid-Afrika (ASA) - met die hoofkwartiere wat in die Paarl geleë is.

Die organisasie sal onder die leiding van Shihan Fujimoto staan - die eerste in Afrika wat direk tot ’n Japanese Shihan as Tegniese Direkteur verbind is en volgens die oorspronklike Japanese riglyne aangebied word.

Fujimoto Shihan besoek Paarl op uitnodiging van ASA vir ‘n 4-dag oefenkamp, wat vanaf 19 tot 22 November 2009 aangebied word by die Nelson’s Creek wynlandgoed. Dié oefenkamp, wat internasionale belangstelling vanuit Switserland, Rusland en Italië ontvang, sal oop wees vir die publiek om te besigtig. Die Japanese Ambassadeur tot Suid Afrika sal ook teenwoordig wees.

Een van die klasse sal ook op kinders gerig wees, waartydens ongeveer 50 minderbevoorregte kinders Aikido onderrig vanaf Fujimoto Shihan sal ontvang. Belangstellendes kan vir Goliath kontak by 083-463-4187 of ’n e-pos stuur aan info@aikidosa.co.za.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za