Streekkampioene
2009-09-03
Jaco van Wyk
NÁ afloop van Saterdag se weghol-oorwinning oor Blues, is Riverstones Rugbyklub as waardige kampioene van die Paarl Streekliga-kampioenskappe vir 2009 gekroon. Teen die einde van die kompetisie was dit ’n nek-aan-nek stryd tussen die twee top-spanne, Riverstones en Young Standards, om die titel in te palm, maar uiteindelik het Stones se 37-13 bonuspuntsege oor Laer Paarl die knoop deurgehaak. Intussen het Young Standards vir Young Gardens op die Faurestraat-stadion met 30-5 verslaan. ’n Groot skare het Riverstones se wedstryd teen Laer Paarl op die Daljosafat-sportgronde bygewoon, met Stones se kenmerkende inklimspel deur hul voorhoede wat gesorg het dat die gesogte titel eintlik reeds in die eerste helfte beklink is. Vier drieë in die eerste helfte en ’n rustydtelling van 25-10 was genoeg om Blues te sink, met nóg twee Riverstones-drieë in die tweede helfte wat die sout in die wonde van hul opponente gevryf het. Stones se kaptein, Lance Benjamin, het met sy kenmerkende stormlopies van voor af gelei en die res van sy span aangesteek om ’n goeie algehele vertoning op die dag te lewer. Riverstones se driedrukkers was Jeremy van Neel, Morné Hefca, Yulin Claasen, Lance Benjamin, Simon Julies en Dominic Adriaanse. Donovan Hougaardt het met 1 strafdoel en 2 doelskoppe geslaag. * Intussen is Young Gardens II as die tweedespan-kampioene vir 2009 gekroon ná ’n oorwinning oor Young Standards II op die Faurestraat-stadion. Riverstones se derde span is aangewys as die kampioene van hul afdeling, ná hulle saterdag met Blues afgereken het
More
News
|