Vasberadenheid bring selfoon terug
2009-09-10
Lise Beyers
’n WERKLOSE man se vasberadenheid om sy selfoon terug te kry ná ’n gewapende roof, het vrugte afgewerp nadat hy geweier het om te gaan lê na die voorval. Vir Howard Arendse is sy selfoon van uiterste belang, Hy is tans werkloos en hiersonder kan moontlike werkgewers nie vir hom kontak nie. Dus was dit verlede Sondag ’n groot slag toe ’n jong misdadiger hom hiervan beroof het. Arendse was ongeveer 16:15 vanaf die Paarl onderweg na ’n kerkdiens in Newton, toe ’n tiener hom oorkant Mbekweni aangeval het. “Hy het skielik op my afgestorm met ’n okapi-mes en vir my beveel om my selfoon en beursie aan hom te oorhandig.” Maar Arendse was nie bereid om die stryd sommer so op te gee nie, en het die jongman probeer vermy. “Hy het aanmekaar na my toe gekap met die mes en ek het besef dat as hy die kans kry, sal hy vir my daarmee steek. “Ek het toe maar my selfoon aan hom oorhandig. Hierna het hy vinnig die pad gevat en in die rigting van die Dalvale Garage gehardloop.” ’n Desperate Arendse het ’n aankomende bakkie gestop en vir die drywer gevra om vir hom na die motorhawe te neem. Maar die seun het in ’n taxi geklim wat weer in die rigting van Mbekweni gery het. Hulle het wel daarin geslaag om die taxi aan te keer, maar die seun was reeds weg. Die bestuurder het gesê dat hy die seun ken en weet waar hy woon. So is hulle na sy woning in Langabuya, maar daar was geen teken van hom nie. Die volgende dag is hy na Mbekweni-polisiestasie toe en ’n konstabel het vir hom vergesel na die jong misdadiger se huis toe. Sy ma het aan hulle vertel dat hy by die skool is, en hulle is daarheen. Maar Arendse is weer teleur gestel, toe hy by die skool aan kom, en die seun het weer verdwyn. Mede-skoliere sê hy het gespog oor die roof en vertel dat hy die foon vir R100 verkoop het. Met hierdie inligting het die Mbekweni speurtak oorgeneem, die koper is aangetree en Arendse het sy selfoon teruggekry. Die 17-jarige seun is gearresteer en ’n klag van roof en poging tot moord word teen hom ondersoek.
More
News
|