Vrot appels by verkeersdepartement
2009-09-10
BEDROG het weer sy kop uitgesteek by die Daljosafat-toetssentrum, nadat ’n beampte hier op heterdaad betrap is dat hy glo omkoopgeld ontvang het. Klagtes is van bestuurskool-instrukteurs ontvang oor hierdie beampte wat na bewering op R300 aandring om leerlingbestuurders hul toets te laat slaag. Indien die geld nie betaal word nie, druip hy glo summier die leerlingbestuurders. ’n Lokval is gestel vir die beampte deur die Paarl polisie en bestuurslede van die toetssentrum, terwyl die verdagte beampte ’n leerling-vragmotorbestuurder getoets het. Die bestuurder was gewapen met ’n koevert met R600 kontant daarin, waarvan die note gemerk was. Die geld het hande geruil en toe die toetsing klaar is, het bestuurslede die toetsbeampte ingewag. Maar hy het snuf in die neus gekry en die geld oorhandig aan ’n ander kollega, wat dit toe in ’n motor versteek het. Die koevert is wel gevind. Die beampte sal nou intern verhoor word deur die verkeersafdeling, asook ’n kriminele klag in die gesig staar. Maar volgens ingeligtes is hierdie soort gedrag van toetsbeamptes niks nuuts by Daljosafat toetssentrum nie. Bestuursinstrukteurs vertel dat sodra studente langs hierdie beamptes inskuif vir hul toets, word hulle summier gevra of hulle hul geld saamgebring het. “Hulle neem selfs jou selfoon af as jy nie die omkoopgeld betaal nie, en gee dit eers terug as jy vir hulle R300 betaal,” vertel een slagoffer. “As jy ‘piemp’ dan kry jy doodeenvoudig nie jou lisensie nie en ook nie jou selfoon terug nie.” ’n Ander instrukteur het gesê dat die verkeersafdeling verrot is: “Baie beamptes maak hulself skuldig aan hierdie gedrag, party van hulle nogal hoog op. “En wanneer ons klagtes wel ondersoek word, dan word die skuldige beampte slegs intern ondersoek, in plaas van krimineel. “Nie net is hierdie bedrog ’n klap in die gesig vir die stelsel nie, maar talle onbevoegde bestuurders beland op die pad met lisensies wat hulle nie verdien nie, en dit het ’n direkte verbintenis met die hoë padongeluksyfer.” Volgens die munisipale woordvoerder, May Carolissen, is die aantygings jeens die verkeersbeampte amptelik gerapporteer en ’n dringende ondersoek is geloods met die oog op moontlike tugstappe. “Die Munisipaliteit is opreg dankbaar vir die publiek vir die aanmeld van vermoedelike ongerymdhede en sodanige aantygings word in ’n ernstige lig beskou, juis teen die agtergrond dat ons ernstig is om alle moontlike vorme van korrupsie hok te slaan.” * A traffic official has been caught red-handed taking a bribe while testing a learner driver at the Drakenstein traffic centre.
More
News
|