Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Is Waterfront-projek regtig nodig?

Is Waterfront-projek regtig nodig?
 
2009-09-10


AS inwoner en belastingbetaler van die woongebied bekend as Esterville geleë aangrensend aan die beoogde Waterfront-ontwikkeling in die Paarl wil ek my kommer uitspreek oor die beoogde Waterfront-ontwikkeling.

Met vroeë vergaderings wat plaasgevind het, is dit aan ons gestel dat die ontwikkeling wat beoog word aangewend sou wees om huisvesting en oefengeriewe te voorsien vir die 2010 sokkerspelers wat die dorp sou besoek. Na afloop van al hierdie gebeure sal die geboue en infrastruktuur oorgedra word aan die Drakenstein Munisipaliteit vir gebruik soos deur hulle goedgedink word.

Aangesien die doelwitte wat gestel is nie meer bereik kan word nie, verskuif die oorspronklike doelstellings nou na een van voorsiening van behuising en kantore vir Paarl inwoners volgens die jongste verslag wat ek ontvang het.

Waarom hierdie gebied wat huidiglik deur alle inwoners van Paarl vir krieket- en hokkiewedstryde gebruik word, asook ander ontspanningsgeriewe, uitgesonder is vir ontwikkeling, gaan my verstand te bowe.

Miskien is dit maar weer die ou cliché dat ’n instansie of iemand die geleentheid gesien het om ’n inkomste hierdeur te genereer, soos met die meeste landbougrond wat aangrensend tot die Paarl Hoofstraat geleë was.

Het dit nie tyd geword dat ons as inwoners die gulsige ontwikkelings wat beoog word beperk of afskiet nie?

Die Bergrivier is lank en moontlik is daar iewers ’n geskikte eiendom vir die oprigting van huisvesting wat nie so sensitief is nie.

Bekommerde inwoner

May Carolissen, woordvoerder van die Drakenstein Munisipaliteit, reageer: Die beplande ontwikkeling is steeds in lyn met die munisipale tender soos toegestaan aan die ontwikkelaar, Paarl Waterfront Ontwikkelingsmaatskappy.

Met die toekenning van die tender was dit beoog om fasiliteite te skep wat as basiskamp sou dien vir ’n 2010 sokkerspelende land. Beide partye het hulle tot hierdie doelwit beywer, maar met volle kennis dat enige ontwikkeling van hierdie aard tyd sou neem vir die toekening van regte, aangesien dit ’n Provinsiale Owerhede proses is, en die moontlikheid dat Paarl nie oorweeg sal word deur ’n nasie as ’n basiskamp nie.

Die ooreenkoms deur beide partye was om voort te gaan met die beplande ontwikkeling ongeag of die bestaande fasiliteite in plek sal wees en of Paarl ’n span kon oorreed om hulle hier te huisves gedurende die 2010 Wêreldbekersokker.

Die projek was in belang van ontwikkeling in die Drakenstein en die “Legacy Projekte” beoog deur die ontwikkelaar sou nog steeds geïmplimenteer word.

Die vier kernsteunpilare van die ontwikkeling is nog steeds die daarstelling van ‘n Wêreldklas Sportakademie en verwante infrastruktuur asook die verskuiwing van al die sportklubs na alternatiewe munisipale grond met nuwe opgegradeerde fasiliteite; betrokkenheid by omgewingsvriendelike argitektuur en boumetodes asook die opgradering en beveiliging van die Arboretum en gedeeltes van die Bergrivier; verskaffing van nuwe toerismefasiliteite wat insluit ’n hotel, konferensiefasilitieie en toerisme-georiënteerde winkels; en die ontwikkeling van residensiële eenhede en kantore.

Daar word beoog om slegs twee gedeeltes grond aan die Munisipaliteit terug te gee. Die eerste gedeelte is die sentrale ovaal-oefenveld en die tweede ’n gedeelte aan die noordekant van Markstraat wat deur die Paarl Kanoklub gebruik sal word.

Al hierdie inligting is aan all geregistreerde belanghebbendes, die omliggende bure asook vir die breë publiek in die twee biblioteke vir kommentaar beskikbaar gestel. Met die sluitingsdatum van 31 Augustus was daar slegs een brief van beswaar teen die projek ontvang.

Daar was ook ’n vergadering gehou met die inwoners van Esterville en hulle wyksverteenwordiger om die ontwikkeling aan hulle te verduidelik en enige onduidelikheid uit te sorteer. In hierdie vergadering was bekommernisse geopper wat uitgesorteer was, soos meganismes om verkeersvloei te kalmeer in die area en geraas. So by vele geleenthede het inwoners die geleentheid gehad om kommentaar te lewer.

Ons kry ook baie kommentaar van oorsese besoekers wat sê dat dit ’n jammerte is dat die Bergrivier nie benut word as ’n bate vir die dorp nie. Hierdie ontwikkeling is juis daarop gemik om die rivier as ’n bate vir die dorp en al sy inwoners te ontwikkel.




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za