ENIGEEN wat sy munisipale rekening in Julie ontvang het, sal oplet dat die rekening heelwat hoër was as die vorige maand. Dit sluit in elektrisiteit, waarvan die basies sowel as die lopende bedrag verhoog het.
Wat my pla, is dat die elektrisiteit wat in hierdie rekening betaalbaar is, gebruik is tussen ongeveer 22 Mei en 26 Junie.
Dit beteken dat Drakenstein al sy belastingbetalers te hoog aangeslaan het, deur elektrisiteit wat in die vorige boekjaar gebruik is, aan te slaan teen die tarief van die nuwe belastingjaar (1 Julie).
Nadat ek by die Munisipaliteit gekla het oor die foutiewe kragrekening, is ek verwys na die Direkteur van Finansies, mnr Cavin Petersen, met wie ek vir ’n week geen afspraak kon kry nie. Hy kon ook nie ’n telefoon beantwoord nie.
Hoe gebeur dit? Het die Munisipaliteit gedink niemand gaan dit raaksien nie? Daar is seker weer ’n funksie wat gehou moet word waarvoor die publiek moet betaal met die ekstra geld van Juniemaand se rekenings!
A Maree, Paarl
May Carolissen, woordvoerder van Drakenstein Munisipaliteit, reageer as volg: Veronderstel ’n huishouding se verbruik van elektrisiteit is 300 eenhede vir die rekening van middel Junie tot middel Julie, dan is dit moeilik vir die stelsel om die berekening te doen van hoeveel eenhede is van middel tot einde Junie en van begin tot middel Julie gebruik.
Dus is die verhoogde tarief op die hele rekening van Junie/Julie.
Mev Maree se rekening is met R68 meer aangeslaan en ’n krediet sal teen haar rekening deurgesit word sowel as alle ander soortgelyke gevalle. Die Uitvoerende direkteur van Finansies, mnr Cavin Petersen, het wel met mev Maree die aangeleentheid telefonies bespreek en daar is ’n vergadering met haar belê om die aangeleentheid verder te bespreek.